Jaarlikse viertrekdag sorg vir hope Liggies-pret!
Ons wonder wie het dit die meeste geniet... die Liggies of die borge en die voertuigbestuurders? Regtig 'n opbeurende geleentheid. Dankie aan almal wat deelgeneem het aan dié jaarlikse pretdag.
VANDERBIJLPARK. – Die jaarlikse 4×4 dag wat tradisioneel deur sakelui en vriende van die Lewenslig-sentrum gereël word, het onlangs weer vir groot opwinding gesorg.
Dié jaarlikse uitstappie in viertrekvoertuie is al ‘n hoogtepunt op die jaarlikse kalender. Dit behels dat Vaaldriehoekse sakemanne en -vroue die dag hul eie sakebedrywighede opsyskuif om ‘n paar uur saam met inwoners van Lewenslig in die natuur deur te bring. Lewenslig is ‘n sentrum vir mense met breingestremdhede.

Reeds twee maande voor die tyd kon die sowat 30 Liggies, soos die inwoners bekendstaan, skaars hul opwinding beteuel. Daar is net 4×4 gepraat, gespeel en gedroom. En te oordeel aan die geesdrif waarmee plaaslike sakelui dié dag aanpak, gee dit vir hulle net soveel pret om betrokke te wees!
‘n Hele optog van 4×4-voertuie het reeds vroeg die oggend van Vrydag, 17 November in Vanderbijlpark bymekaargekom om die Liggies op te laai. Elke voertuig natuurlik swaar gelaai met vars drinkwater, koeldrank, roomys, broodjies, souse en wors… alles wat ‘n uitstappie in die natuur nog lekkerder maak.

Nadat die 4×4-bestuurders die Liggies op ‘n verkenningstog deur die beboste terrein van die plaas tussen Vanderbijlpark en Parys geneem het, kon almal aansit vir ‘n lekker maaltyd in die buitelug. Volgens me. Roezitha Marais, finansiële beampte van Lewenslig, kan die Liggies steeds nie uitgepraat raak oor die dag nie, en die personeel het dit net soveel geniet.

“Dankie aan ieder en elk vir jul bereidwilligheid om die dag vir onse Hemelkinders lekker te maak. Dit is een van die jaarlikse uitstappies wat die Liggies die meeste geniet. Nogmaals baie dankie van my en Hikkie, die bestuur en al die Liggies se kant af,” het mnr. Fanie Blignaut van die sentrum agterna gesê.
Mnr. Klippies Kritzinger, hooforganiseerder van die 4×4-dag, bedank ook alle sakelui wat betrokke was. “As die Here dit so beskik, doen ons dit beslis weer volgende jaar,” sê hy.

Hoe ry die Liggies sit-sit so…. elkeen met ‘n glimlag op die gesig!

Agterna kon almal lekker eet aan die piekniekkos wat spesiaal vir hulle voorgesit is.

Van die deelnemers aan vanjaar se viertrekdag staan gereed vir die groot avontuur.
