Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Die wêreld versnel in die vinnige baan haastig om die Desembervakansie datum te bereik, maar ek is op slakkepas met kaffeine-gevulde are... Lees meer

5RUBRIEK. – Die week…. Die week en ek het koppe gestamp sommer van Maandag af. Dis mos Desember. Almal is besig om met spoed alles te finaliseer en klaar te maak want die groot vakansie is op hande.

Voel vir my ek is op ‘n slakkepas in die vinnige baan. My energievlakke wil net nie meer klim tot waar die dolle Desember gejaag dit van my vereis nie.

Maandag klim ek in ‘n stadium in myse Ford Mich. Die hitte slaan my asem weg, maar ek maak maar asof ek nie summier “medium-rare” brand nie en hou aan praat met die mense waarmee ek so pas ‘n onderhoud gehad het.

Was seker die hitte wat my gevang het, want so in die proses van die laaste groetslag lig ek my linkerbeen ongrasieus te hoog op en slaan ek my oorle-Ouma-geêrfde-rumatiek-knie disnis teen die stuurwiel.

Kyk, die pyn skiet tot hier net bokant my ore, maar ek hou my waardig en groet vriendelik deur die venster terwyl ek blindelings agteruit ry. Knie het die res van die dag gepyn en ja, die nerwe was af.

Maar, so gaan dit. Die volgende twee dae ryg ek die onderhoude in en vat net hier en daar grond. Ma is in die hospitaal na ‘n knievervanging en ek onderneem elke dag die drie-dae-terperd reis vanaf Vanderbijlpark tot in Drie Riviere.

By die huis gee die honde my vuil kyke en vuil vloere, want elke dag kom ek tuis sonder Ma en baie laat vir hul aandete.

Dinsdagnag tref dit my soos ‘n Eben Etsebeth op volstoom. Die spertyd vir die Vaalweekblad is Woensdagmiddag om 16:00. Met al my hot en haar ryery het ek nog nie eens een artikel klaar nie.

Ek stel summier die alarm vroeër en ‘n paar uur later kry ek darem ‘n berig of twee met dik geslaapte oë en ‘n oordosis koffie in my bloedstroom geskryf.

Wraggies het ek toe nog ‘n onderhoud vir Woensdagoggend 08:00. Die hou toe weer te lank aan (ek kan nie net tref en trap nie, ek hou van lank gesels en goeie info kry) en teen die tyd wat ek die kantoor bestorm weet ek ek sal moet vinnig tik en laai.

Ha! Net daar bots ek en die week weer. Foto’s wil nie laai nie. Ek sit af. Begin oor. “Server error”.

‘n Amperse senuweeineenstorting, twee paniekaanvalle en drie hartaanvalle later (ek oordryf so effens) het die slim IT-man my rekenaar langafstand oorgeneem en is hy doenig om die saak te beredder.

Eind goed alles goed. Wat die fout was weet ek nie. Ek het nie gevra nie. Was net verlig ek kon my werk doen, voordat Sperdatum my keel afsny.

Nou moet ek nog net verby Kleinsus Antjie, Baba Bessie en Her Royal Naughtyness Heidi kom, want vanaand is hul kos weer laat. Sela!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button