Meyerton-skoonheid stig NRO om vroue te bemagtig
Sy het die NGO gestig om ‘n verskil in haar gemeenskap te maak.
*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (8 – 14 Desember 2023) verskyn.
MEYERTON. – ‘n Plaaslike skoonheidskoningin hoop om saam met die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit en plaaslike besighede ‘n groot verskil in haar gemeenskap te maak. Danelle Dreyer (38), ‘n sakevrou en ma van vier, is vroeër vanjaar as eerste prinses in die Mrs Grand South Africa-skoonheidskompetisie gekroon.
Sy het Idube, ‘n nie-regeringsorganisasie (NRO), gestig vir die taak.
Die organisasie is op 22 November tydens ‘n geleentheid by Ligkuns Galery in Meyerton bekend gestel.
Die naam van die organisasie, “Idube” beteken sebra in Zulu.
Danelle was ook in 2017 ‘n Mej. SAfinalis.
Sy was ook ‘n deelnemer en liefdadigheidswenner in die Ster Statusrealiteitsreeks.

Danelle vertel dat vandat haar reis van bekendheid en roem begin het, sy baie met nie-regeringsorganisasies gewerk het.
As deelnemer in die Ster Statusrealiteitsreeks het sy gehelp om fondse in te samel vir die Fabulous Girl-stigting, wat homself beywer vir die bemagtiging van vroue.
As Mrs Grand South Africa-finalis het sy gehelp om geld vir Jason’s Angels, ‘n humanitêre organisasie wat ten doel het om geslagsgebaseerde geweld te beëindig, in te samel.
Danelle het intussen met ‘n burgemeesterskomiteelid van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit gesels oor die wyses waarop die munisipaliteit met nieregeringsorganisasies kan saamwerk om ‘n verskil in die gemeenskap te maak.
Danelle beoog om danksy haar organisasie met plaaslike besighede saam te werk wat donasies vir die doeleindes van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) aan NRO’s wil maak, sowel as ondernemings wat geld wil skenk aan liefdadigheid.
Die organisasie sal ook een keer per maand geleenthede aanbied waar plaaslike vroue byeen kan kom en kan help om mekaar te bemagtig en op te hef.
“Ek glo dat ons deur middel van die Idube-stigting ‘n positiewe verandering in die gemeenskap kan maak. Ek nooi plaaslike dames om deel te wees van die Idube Women in Business-netwerk,” sluit Danelle af.

