Local newsNewsNews

Breinoperasie suksesvol

Goeie nuus - Klein Nolan Marais vorder uitstekend na die breinoperasie in September.

VANDERBIJLPARK. – Geen uitdaging is vir hom te groot nie. Dit het Nolan Marais, wat 13 Januarie twee word, al oor en oor bewys.

Drie maande gelede het hy ‘n breinoperasie ondergaan nadat hy met erge hidrokefalie, ‘n kondisie wat vog in sy brein versamel, gediagnoseer is.

Nolan staan self, loop al ‘n paar treë op ‘n slag en kan nou self op en af op die bank klouter. Foto: Gerda Bruinette

Tydens die operasie is ‘n nuwe paadjie en opening vir die vog in sy brein geskep. Verlede week het die chirurg die goeie tyding gebring, die operasie was ‘n sukses.

Die vog dreineer natuurlik en ‘n tweede operasie sal nie nodig wees nie. Die sist op sy brein, waarmee hy gebore is, is nog daar, maar dit veroorsaak geen drukking of probleme op die stadium nie.

Nolan het intussen met rasse skrede gevorder. Waar hy drie maande gelede nie nie alleen kon staan nie, doen hy dit nou met gemak en loop hy selfs al ‘n paar tree op ‘n slag.

Hy is ‘n woelige peuter wat daarvan hou om op en af op die bank te klim, te teken en sy gunsteling kinderprogramme te kyk.

Hy is gek na diere en is op sy gelukkigste as hy ‘n draai by die diereplaas kan maak of na Old McDonald had a farm video’s kan kyk.

Nolan is met ‘n gesplete bolip gebore wat verlede jaar reggemaak is. Daar is later bevind dat sy verhemelte en stembande ook aangetas is. Gelukkig was daar ook vordering en eet hy nou baie beter.

Alhoewel hy later spraakterapie sal moet ondergaan, en moontlik ‘n operasie omdat van sy spiere wat sy stembande beheer nie aangegroei het nie, ken hy al die kleure, letters, syfers, dierename en geluide.

Sy ogies blink en hy sien alles raak. Tydens Vaalweekblad se besoek het my pers pen sy aandag getrek en het hy ook ywerig “notas” in die notaboek gemaak.

Sy ma is sy alles en hy sorg dat hy haar die heeltyd in die oog het. Om te sien hoeveel die kleinman die afgelope paar maande gegroei en ontwikkel het, roer die hartsnare.

Nolan met sy rubber eendjie. Hy is baie lief vir alle diere.

Hy dans op die musiek, maak die dieregeluide na en loer grootoog vir die kamera. Waai ‘n soentjie toe ek moet ry.

Dis moeilik om te glo dat medici sy ma aangeraai het om die swangerskap op 23 weke te termineer.

Op byna tweejarige ouderdom is Nolan ‘n intelligente peuter vol lewenslus en soos sy ma tereg sê: “‘n Absolute wonderwerk.”

Check Also
Close
 
Back to top button