Local newsNews

Danika vanoggend weer in die hospitaal opgeneem

Steeds kommer oor haar toestand na verlede week se operasie

 

Klein Danika van Tonder, die 7-jarige dogtertjie van die Vaaldriehoek wat die afgelope nege maande met Stadium 4-breinkanker (medulloblastoma) geworstel het, is Vrydag na ‘n teaterprosedure uit die hospitaal ontslaan, maar is vanoggend weer opgeneem.
Volgens haar pa, mnr. André van Tonder, is die gesin maar neerslagtig weens die nuwe terugslag. Danika en haar ouers het verlede maand gehoor dat haar kanker in remissie is en hulle het gehoop dat daar ‘n kommervrye Kerstyd op hulle wag, maar sy ondervind steeds probleme met die buisie wat vog van haar brein af moet laat dreineer.

Dit is verlede week tydens ‘n operasie in die Nelson Mandela-kinderhospitaal in Johannesburg verstel en sy kon Vrydag huis toe gaan, maar het oor die naweek opnuut probleme ontwikkel. Sy is vroeg vanoggend weer in die hospitaal opgeneem. Sy gaan minstens vannag daar moet oorbly vir waarneming en moontlik ook vir verdere prosedures. “Ons gaan die afgelope week opnuut deur hel,” sê haar pa.
* Weens die betrokkenheid by Danika se behandeling staan haar pa se loodgietersbesigheid steeds stil en die gesin het tans geen inkomste nie. Daarby bring die heen-en-weer ritte stad toe groot brandstofuitgawes mee, en hulle moes vanoggend ook opdok vir ‘n opnamefooi by die hospitaal. Enigiemand wat kans sien om die gesin geldelik by te staan, kan ‘n inbetaling maak aan A. van Tonder, Standard Bank Vereeniging, rekeningnommer: 282004726 (tjek).

‘n Onlangse foto van Danika (links) en regs is sy in haar skooldrag toe sy aan die begin van die jaar haar skoolloopbaan by die Laerskool Risiville begin het.
Danika van Tonder saam met haar ouers, André en Christine, nadat haar behandeling vroeër vanjaar begin het.
Danika as trotse Graad eentjie by Laerskool Risiville in Januarie vanjaar.
Danika verlede week in haar hospitaalbed in die Nelson Mandela Kinderhospitaal in Johannesburg

 
Back to top button