Staatmaker-sakeman skielik oorlede
'Hy was 'n sagmoedige man, 'n harde werker en absoluut eerbaar - sy woord was sy woord. Hy was die beste oupa en 'n joviale mense-mens'
VANDERBIJLPARK. – Een van die Vaaldriehoek se oudste en mees gerespekteerde sakemanne, mnr. Gerhard Schuhknecht (85), het verlede Vrydagmiddag onverwags in die Vaalpark-hospitaal beswyk. Wyle mnr. Schuhknecht was die grondlegger van Park Panelbeaters in Vanderbijlpark.
Volgens sy skoondogter, mev. Louise Schuhknecht, het hy Vrydag omstreeks middagete inmekaargesak en is per ambulans na die Vaalpark-hospitaal vervoer, waar hy rustig heengegaan het met sy vrou en kinders om sy bed. Die oorsaak was ‘n aneurisme in sy hoofslagaar.
Mnr. Schuhknecht het as 14-jarige saam met sy ouers vanaf Duitsland na Suid-Afrika geïmmigreer en hulle in Vanderbijlpark, toe nog ‘n jong dorp, kom vestig. Gerhard het na skool as vakleerling by die destydse Jones Panelbeaters langs die Barrage-pad begin werk. Hy en sy vrou, Marie, is op 12 Mei 1962 getroud en het na baie toewyding en harde werk genoeg geld gespaar om hul eie duikklop-onderneming te begin.
Park Panelbeaters se deure het op 1 November 1967 in Cartwrightstraat in Vanderbijlpark se ligte nywerheidsgebied geopen. Gerhard se oorlede pa het destyds die eerste geboue op die perseel waar dié onderneming steeds is, help bou. Park Panelbeaters het in die opvolgende 56 jaar tot een van die beste van sy soort ontwikkel en is deur die jare met verskeie nasionale toptoekennings beloon.
Drie kinders is uit Gerhard en Marie se huwelik gebore: Karl, Antonette en Anton. Al drie het reeds kort na skool by die onderneming betrokke geraak om Gerhard en Marie se droom te laat voortleef. Antonette is in 2009 oorlede, maar albei seuns, hul vroue en van hul kleinkinders is steeds aktief by die familiesaak betrokke.
“Pa kon ons en die kleinkinders vir ure vermaak met staaltjies oor hoe hy en Ma die besigheid begin het, die nagte se deurwerk en hoe trots hy was om te sien hoe Park deur die jare gegroei het. Sy kennis oor sy beroep was merkwaardig,” sê Louise.
“Hy was ‘n sagmoedige man, ‘n harde werker en absoluut eerbaar – sy woord was sy woord.”
“Hy was die beste oupa en ‘n joviale mense-mens wat lief was vir kuier en lekker eet. Van sy sakevriende het nog gereeld hier in sy kantoor kom kuier, ‘n lekker koppie koffie kom drink en ure lank gesels. Pa het altyd ‘n oor gehad om na almal te luister.”
Buiten sy vrou, kinders en skoonkinders word mnr. Schuhknecht ook deur drie kleinseuns, drie kleindogters en sewe agterkleinkinders oorleef. Sy gedenkdiens is Saterdag, 9 Desember by Derde Kruis Gemeente in Prinsloostraat, Vanderbijlpark gehou.



