Local newsNewsNews

Die Hendersons groet die Vaal

Van onderwyser tot afgetrede direkteur van onderwys, rugby kaptein tot afrigter, waar Skip Henderson gegaan het, het hy diep spore gelaat.

VANDERBIJLPARK. – Skip en Leen Henderson is sedert 1992 deel van die lief en leed van die Vaaldriehoek. Hulle het hierheen verhuis vanaf Nylstroom nadat Skip as skoolinspekteur in Vereeniging aangestel is.

In 1994 is hy tot adjunkdirekteur en later tot direkteur van onderwys in Sedibeng bevorder. Na 42 jaar in die onderwys het hy in 2005 afgetree.

Hy en sy vrou het hul aftrede in Vanderbijlpark geniet, maar trek nou Potchefstroom toe om nader aan die kinders te wees.

Mnr. Skip Henderson in sy kantoor voor sy aftrede. Foto: verskaf

“Die getrekkery is eintlik malligheid,” sug Skip, maar hy gee toe dit lekker sal wees om nader aan sy dogter-hulle, wat net buite Potchefstroom boer, te wees.

Sy kleindogter en haar man woon ook op die dorp en dié het al klaar gesê hulle kan nie wag om weekliks ouma se kos te eet nie.

Skip het in Carolina grootgeword en het na skool met ‘n onderwysbeurs gaan swot. “Ek het nie oorspronklik beplan om onderwyser te word nie,” lag hy, “maar ek is bly ek het.”

Leentjie, wat self vir 27 jaar onderwyseres was, sê Skip was gebore vir die onderwys. “Hy was vir jare verbonde aan die Hugenote Hoërskool (toe nog slegs ‘n seunsskool) in Springs as onder andere skoolhoof en eerstespan rugbyafrigter, en hy het elke seun op die naam geken,” vertel sy.

Die egpaar ken mekaar al sedert 1960 en is in 1964 getroud. Saam het die twee al baie avonture beleef en ken hul mekaar deur en deur.

“Ek moes altyd sy toesprake vir hom skryf,” vertel sy, “dan het hy dit in die motor op pad na die funksie so paar maal deurgelees.”

Skip en Leentjie tydens haar 80-jaar verjaardagvieringe so ‘n jaar of wat gelede. Foto: verskaf

Sy was die enigste wat langs hom mag gesit het wanneer Hugenote rugby gespeel het, want hy wou op die wedstryd konsentreer.

Sport was nog altyd in sy bloed. Veral rugby. As jongman het hy eers vir die o.20 Oos-Transvaalspan uitgedraf en later vir die Oos-Transvaalspan waar hy vir langer as ‘n dekade die kaptein was.

Hy onthou nog die 1974 Currybeker finaal teen Transvaal. “Ons het met 25-19 verloor, maar as jy vat dat ons die grootste gedeelte van die wedstryd net met 14 man gespeel het en dat ons 19 – 3 agter was teen rustyd, dan het ons hulle eintlik goed opgekeil.”

Leentjie was op haar dag ‘n kranige provinsiale hokkiespeler en naelloopatleet wat later jare provinsiale kleure in veteraan tennis verwerf he

Nadat hul baie gelukkige jare in Springs gehad het, is Skip bevorder tot skoolinspekteur gestasioneer in Nylstroom. Die area onder hom het so ver as Thabazimbi gestrek en tot vlak voor Pietersburg.

Hulle onthou hul Bosveldjare as van hul lekkerste jare in die onderwys. “As inspekteur leer mens om ‘n goeie hoof te waardeer,” verduidelik Skip.

Leentjie het gereeld saam met hom gereis na die verre skole en plaasskooltjies en hulle het die gasvryheid van die boere en klein dorpies baie geniet.

Dit was ‘n aanpassing om die Bosveld te verlaat en Vaaldriehoek toe te trek, maar vandag neem hul met ‘n swaar hart afskeid van die streek.

“Daar wag vir ons ‘n nuwe avontuur en ons gaan dit met oorgawe aanpak. Ons moet net die trekkery agter die rug kry,” stem hul saam.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button