KYK: Moordbeskuldigdes se video van pistool en konjak maak opslae
Op die video swaai twee van die beskuldigdes ‘n pistool en duur bottels konjak in ‘n nagklub rond.
VEREENIGING. – ‘n Video wat deur een van die Metz-boeties van Leeuhof op sosiale media gelaai is het die afgelope week opslae gemaak.
Die broers, Raymond Metz (21), Shane Metz (24) en Simon Anton Metz (18), staan saam met hul ma, Lindi Falch (44), tereg op die moord van Benjamin Lotz (52).
Lotz is op die aand van 22 November 2021 dood nadat die broers oor sy heining gespring en hom aangeval het na aanleiding van ‘n stryery vroeër die aand oor harde musiek.
Die broers en hul ma is tans op borgtog uit op die voorwaarde dat hulle nie met getuies inmeng nie.

Raymond het op 4 Desember 2023 om 22:31 die opspraakwekkende video opgelaai met ‘n byskrif wat lees: “Raymond Metz is feeling determined.”
Die video is die afgelope week heelwat kere op sosiale media gekyk en op Facebook en WhatsApp aangestuur.
Op die video klink Raymond en Shane bottels duur konjak teen mekaar terwyl kletsrymmusiek in die agtergrond blêr.


Shane vat dan ‘n sluk konjak uit ‘n glas terwyl Raymond die vuurwapen uitpluk.
‘n Sigaret hang by sy mond uit.
Die vuurwapen verwissel ‘n hele paar keer hande en word elke kort-kort op die persoon wat die video verfilm gerig.
Later rig Shane die vuurwapen na sy eie kop terwyl hy sy kop op en af skud.
Hy rig dit dan weer die vuurwapen na die persoon wat die video verfilm.

Een van die getuies wat in Novembermaand tydens die verhoor getuig het, het die video vir Vaalweekblad aangestuur.
Die video laat blykbaar van die getuies onegmaklik voel.
‘n Vuurwapenkenner wat die video gesien het meen die wapen op die video is waarskynlik ‘n sogenaamde “blank gun” – ‘n soort vuurwapen wat nie projektiele kan afvuur nie, maar steeds gevaarlik kan wees indien die sneller in die nabyheid van mense getrek word.

Raymond het by navraag aan Vaalweekblad verduidelik dat die video verlede jaar gemaak is as ‘n manier om ‘n plaaslike nagklub genaamd 446 te bemark.
Dit is glo op 28 Julie 2021 vir die eerste keer opgelaai en toe weer op 4 Desember 2023 heropgelaai.
Die nagklub was glo eers in Leeuhof, maar het intussen na Vanderbijlpark of Sasolburg verskuif.
Shane het glo gereeld as kletsrymer daar opgetree.
Raymond het intussen die video verwyder nadat hy verneem het dat dit van die staatsgetuies ontstel…
Die moordsaak is tot 8 Januarie in die rondgaande hooggeregshof by die Benoni-landdroshof uitgestel.


