MooiVaal + Flinkies = Groot Kerspartytjie
Weet nie wie het die een die meeste geniet nie, die Flinkies of MooiVaal Media se administratiewespan?
VANDERBIJLPARK. – Die jongspan van die Flinke Dinkers Dagsorg & Nasorgsentrum het die verbeelding van MooiVaal Media se administratiewespan aangegryp.
Die dagsorgsentrum in die hartjie van CW6 bied ‘n vrolike, veilige omgewing vir peuters en kleuters. By die Flinkies is kinders met spesiale behoeftes ook welkom.
Almal het hier ‘n plek in die son. MooiVaal se admin-dames het Vrydag, 8 Desember saamgespan en is die kleinspan met lekkernye en geskenke bederf.
Die Flinkies se eienaars, Endri en Johan Coertze het op hul beurt weer seker gemaak die Kersversierings is op en die tafels gedek vir ‘n lekker kerspartytjie.
Natuurlik was daar genoeg te ete en drinke vir die besoekers ook. Die kleinspan het hulself gate uit geniet, lekker geëet en geskenke oopgemaak.
Die borrel-blaas bottels in elkeen se geskenkpak was ‘n treffer en net die jongste Flinkies, babas Aiden en Juanita, was meer geïnteresseerd in hul kos as die borrel-blasery.
Na die oggend se pret, kon die kleingoed die middag rustig vat, want Vrydagaand was die Flinke Dinkers se heel eerste prysuitdeling.
Endri het gesê sy sou ‘n jaar terug nie kon droom dat die dagsorgsentrum so goed sou vaar en soveel ondersteuning sou kry nie.
“Ons is nege maande aan die gang. Dit was nie ‘n maklike nege maande nie, maar wel baie geseënd. Dis vir ons ‘n voorreg om elke dag te kan sien hoe die Flinkies fisies en emosioneel groei en ontwikkel. Dis alles net genade.”
