Van skool tot werk program ‘n sukses
Die Ankerskool in Vanderbijlpark maak 'n groot verskil in elke leerder se lewe. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – By Die Ankerskool word dinge anders gedoen. Hier is hul grootste doelwit om seker te maak elke leerder kan sy of haar plek in die samelewing volstaan.
Teen die tyd wat leerders hul vlak vier (en dus laaste LSEN skooljaar) afgehandel het, het elkeen alreeds ‘n hele paar SETA geakkrediteerde kursusse agter die blad.

Die kursusse sluit enige iets in van hoe om ‘n blokman te wees tot by hoe om op hoë hoogtes te werk, kleuterskoolonderwys aan te bied en hulself te kan laat geld in alles van sweiswerk tot by spyseniering.
Skoolhoof Francois du Toit sê hul glo in die holistiese ontwikkeling van elke leerder. Hier word ook nie geslagsgebaseerde onderrig gegee nie.
“Van ons beste sweisers is meisies en die seuns geniet hul studies in die gasvryheidsbedryf.”
Die skool hou ook tred met tegnologiese ontwikkeling en die leerders kan kursusse doen in 3D-drukwerk en laser-sny.
“Dis vir ons belangrik dat die leerders lewensvaardighede leer, onafhanklik kan funksioneer en leer om verantwoordelikheid te neem. Ons het byvoorbeeld nie ‘n klok wat lui by die skool nie. Elkeen moet self sorg dat hul op tyd is,” verduidelik Francois.
Dis duidelik dat die personeel by Die Anker regtig omgee vir elke leerder. Norme en waardes is belangrik en soos die hoof verduidelik, “ons leer hul om verby huidige omstandighede te kyk en te besef wat kan wees.”
“Dis lekker as besighede by ons aanklop en ons leerders wil aanstel,” vertel Francois trots.
Die skoolverlaters het elkeen ‘n opgestelde CV in die hand en is slaggereed om hul volwaardige plek in die samelewing te beklee en ‘n verskil te maak.
