Local newsNewsNews

Die Diereryk het in Vanderbijl gedans

Die Just Dance Studio in Vanderbijlpark se jaareindvertoning was weer besonders die jaar en vir 'n goeie doel. Lees meer...

VANDERBIJLPARK. – Just Dance Studio is bekend vir hul kleurvolle jaareind vertonings. Hierdie jaar was weer een vir die boeke.

Onder die bekwame leiding, choreografie en passie van eienaar Leandi Goosen het maande se voorbereiding en oefening Vrydagaand lewe gekry op Laerskool Kollegepark se verhoog.

‘n Baie vriendelike leeuwelpie, Evangelique Lemstra, na die welpies se dansnommer. Foto: Gerda Bruinette

Die oorhoofse tema was Animal Kingdom en die diereryk was goed verteenwoordig. Voor elke item is daar ‘n kort video gespeel met interessante feite oor die diere wat uitgebeeld gaan word.

Die boodskap was gefokus op die bewaring van die diere en om diere uitbuiting en mishandeling te stop.

Die verskillende dansgroepe, van die beginners tot by die danskampioene het hul buiging op die verhoog gemaak en alles van leeuwelpies en pikkewyne tot by katte en haaie is uitgebeeld.

Buite die saal en agter die verhoog was die spanning en opgewondenheid voelbaar. Dit was ‘n geskarrel om almal betyds aangetrek en opgemaak te kry.

Die vreugde op die jong dansers se gesiggies het boekdele gespreek toe hul na hul items van die verhoog af gekom het. In baie gevalle het ‘n statige pikkewyn of leeutjie skielik aan’t bokspring gegaan.

Buite het boeties rondegespeel en net so nou en dan in die saal geloer om te kyk of sussie al op die verhoog is. Ouers, grootouers en ander familie het bankvas gesit.

Dansers het mekaar luidkeels aangemoedig en die applous het selfs harder geword toe Leandi self as een van drie kleurryke papegaaie haar verskyning op die verhoog gemaak het.

Zanté Visser en Carmi Nortjé het mekaar in hul onderskeie dansnommers ondersteun. Foto: Gerda Bruinette

Na die vertoning is harde werk met ‘n prysuitdeling beloon. Dan maak Dance Studio ook ‘n punt daarvan om elke jaar fondse vir ‘n spesifieke organisasie in te samel tydens die vertoning.

Hierdie jaar is honde- en katkos ingesamel, asook meer as R28 000 wat aan Pur Paws for Life oorhandig is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button