Local newsNews

Ongewone toeval: Vier regsmanne uit Vaal dien saam in hoëhof

Dit was eers toe hulle begin waarneem en mekaar weer ontmoet het dat hulle besef het hier is iets unieks aan die gang...

 

VANDERBIJLPARK. – Dit gebeur nie aldag dat vier waarnemende regters in die Gautengse hooggeregshof uit dieselfde dorp kom nie. Nog minder dat almal aan dieselfde laer- en hoërskool skoolgegaan het!
Dié ongewone gedeelde agtergrond van vier regsmanne uit Vanderbijlpark, Piet Uys, Christo Bothma, Johan Kilian en Riaan Booysen, het eers aan die lig gekom nadat hulle vroeër vanjaar deur Regter President Dunstan Mlambo gevra is om as regters in die hooggeregshof in Johannesburg waar te neem.
Almal het aan die Laerskool DF Malherbe en die Hoërskool Transvalia skoolgegaan. Drie van hulle, Christo, Piet en Johan, se geskiedenis gaan selfs verder terug: Al drie het mekaar reeds as tjokkertjies in Kammaland Kleuterskool ontmoet.
Johan is die oudste van die vier en het in 1987 aan Transvalia gematrikuleer. Piet was in 1988 in matriek en Christo in 1989. Riaan was in 1991 ‘n uitruilstudent in die VSA en het toe in 1992 sy matriek by Transvalia kom voltooi.
Advokaat Johan Kilian onthou: “Christo se pa was oom Bob Bothma, die veearts op die dorp, Piet se pa ’n prokureur by Rooth & Wessels, en my pa ’n eiendomsagent en stadsraadslid. Riaan en ek was saam in Transvalia se kadetorkes en die ander twee in die drilpeloton. Soos ons een-een die skool verlaat het, het ons paaie geskei soos dit maar gaan, en elkeen het sy eie paadjie geloop: Diensplig, verskillende universiteite, geen kontak met mekaar nie. Ons het nie eens geweet dat elkeen regte studeer het nie.”
Met verloop van tyd is al vier toegelaat as advokate. Christo en Johan het die eksamen saam geskryf en praktiseer al vanaf 1996. Die ander twee was eers prokureurs en het toe die eksamen geskryf.
Al vier is lede van die Johannesburgse Balie waar hulle voltyds as advokate praktiseer, elk in sy eie spesialisgebied. Almal het kamers in Sandton en het mekaar soms by die hof raakgeloop. By geleentheid was hulle selfs opponente.
“Sonder dat ons van mekaar bewus was, het Regter President Mlambo ons elkeen vroeër vanjaar afsonderlik gevra om as regters in die Johannesburgse hooggeregshof waar te neem. Dit was eers toe ons begin waarneem dat ons besef het hier is iets unieks aan die gang! Wat is die waarskynlikheid dat ons al vier, met ons gedeelde geskiedenis, saam sou waarneem,” sê Johan.
Die vier se termyn vir 2023 het nou verstryk. Hulle sal weer ’n paar weke in 2024 as regters waarneem, maar volgens die diensrooster sal hulle nie weer saam werk nie.

Die oud-Vanderbijlparkers wat vanjaar saam as regters in die Gautengse hooggeregshof waargeneem het. Van links is Piet Uys, Riaan Booysen, Christo Bothma en Johan Kilian.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button