Talentvolle tweeling se dubbel triomf
Ontmoet twee van die Vaal se talentvolle sterre, Mary-Ann en Beate van Schalkwyk. Lees meer..
VAALPARK – Op die oog af is Mary-Ann en Beate van Schalkwyk stil en rustig, maar beide is geseënd met hope talent. Alhoewel die twee uiteenlopende geaardhede het, is albei judo kampioene.
Die sport het hul reeds as vyfjariges opgeneem en van ophou is daar nog geen sprake nie.
Die twee het so pas hul laerskoolloopbaan voltooi en is dit eens dat hul graad 7 jaar ‘n hoogtepunt was.

In Augustus vanjaar het beide Protea kleure verwerf en Suid-Afrika by die 2023 Commonweatlh Judo Kampioenskappe verteenwoordig.
Die internasionale toernooi het van 2 tot 6 Augustus in Qgeberha (Port Elizabeth) plaasgevind.
“Dit was die eerste jaar wat hul gewig net-net verskil het en hulle nie teen mekaar moes deelneem nie,” vertel ma Miri Vermeulen. Mary-Ann het goud en Beate het silwer huis toe gebring.
Met hul ma wat ‘n begaafde musiekonderwyseres is en hul broers, Vincent en Michael, wat uitblink in kitaar en viool, is dit geen verrassing dat ‘n liefde vir musiek ook in die sussies se are vloei nie.
Hulle het met klavierlesse in graad 1 begin en het hierdie jaar hul graad 5 musiekeksamens suksesvol afgelê.
Hulle het ook uitstekend presteer by die Del Arte en die Vaaldriehoek Kunstefees die jaar. Mary-Ann speel dwarsfluit, terwyl Beate hierdie jaar al deel was van Hoërskool Vaalpark se krieketspan.
Die twee sien uit daarna om volgende jaar saam met hul broers Hoërskool Vaalpark toe te gaan. Maar dis eers 2024 se dinge.
Vir eers sien geniet hul ‘n familievakansie in die Seychelles, waar hul onder andere ‘n draai by ‘n plaaslike Judo-klub wil gaan maak. Hul Sensei het klaar vir hul die Sensei daar se kontakbesonderhede gegee.
