Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Dis weer tyd vir hierdie joernalis se jaarlikse brief aan Vaderkrismis. Tong in die kies. Sommer net. Geniet.

Liewe Vaderkrismis

Dis ekke, jouse vriendin uit die ou RS van A. Kan nie glo daar is alweer ‘n jaar verby nie. Voel vir my ons het nou die dag ge-krismis en hêppie, hêppie 2023 en hier gaat ons alweer.

Weet nie of jy deur die jaar tyd kry om ‘n oog of ‘n oor rigting Suid-Afrika te gooi nie, maar dit was nogal ‘n bedrywige 2023 vir ons.

Die Springbokke het die wêreldbeker naelskraap, broekskeur met almal se senuwees aan flarde gewen.

Die winter was besonders koud met sneeu in die Vrystaat! Nee, dit seg ek op hoorsê, self het ek nou nie op daardie stadium anderkant die Vaalrivier gekuier nie.

Die petrolprys… die petrolprys het vir ons behoorlik gekou die jaar en arm anderkant uitgespoeg. Dis iets waaroor ons nie praat nie.

Hier in Oktober begin ons dink aan ‘n Sneeu Kersfees, want ‘n lastige kouefront het ons skielik oorval en naarstigtelik weer baadjies en komberse uit die kaste laat duik.

Ha! Kom November en Desember. Heigend hert en genadendal, waag dit buite en jy is summier geskroei, verlep en uitgedroog.

Hittegolf op hittegolf en die enigste mense wat glimlag is die lot wat roomys en yslollies verkoop. Al wat ek kan sê is, bêre maar die serpe en musse wanneer jy herwaarts keer 24 Desember.

Belê in sonblok, baie water en ‘n lugversorger vir die slee. Ene wat met batterye werk en onthou maar ekstra-skerp ligte.

Rudulph se rooi neus gaan nie die ding doen nie. Suid-Afrika sal net so plek-plek verlig wees. Hulle noem dit beurtkrag, maar dis iets waaroor ons nie meer praat nie.

Ek weet nie wat jy beplan vir die stout en soet Suid-Afrikaners op jou lys nie, maar steenkool vir Eskom is altyd welkom. Maak tog net seker dis nie te nat, te droog, te oud, te vars, te vuil of te skoon nie.

Die ooms by Eskom sukkel vreeslik en het elke tweede dag ‘n ander probleem met die steenkool. Maar, dis iets waaroor ons nie wil praat nie.

Keelseerpille vir al die land se politici sal goed wees en oorpluisies vir die res van ons. Volgende jaar is weer verkiesingstyd. Dan word daar baie gepraat en niemand is meer lus om te luister nie.

As dit kan reën op 31 Desember, veral deur die nag, sal dit waardeer word. Maak net seker al die vuurwerke word baie nat en kan nie eens ‘n ligte boem maak nie. Ek is nie lelik nie, maar die arme diere en voëls kan dit nie hou nie.

Sterkte met al die reise oor tydsones heen die 24ste. Stuur groete vir Vader Tyd, Moeder Natuur, die Paashaas en die Tooth Fairy.

Vlieg versigtig oor die ou RS van A ons het baie misdaad, beurtkrag, korrupsie en moeilikheid, maar ons hou uit en ons hou aan.

Ten minste het die Rugby Wêreldbeker huis toe gekom. Daaroor gaan ons nog lank en baie praat! Groetnis uit die Vaaldriehoek

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button