Gaan Vereeniging Gimmies ‘n parallelmedium skool word?
Vereeniging Gimnasium se getalle het sodanig afgeneem dat die Departement van Onderwys, die Beheerliggaam genader het om dit ernstig te oorweeg om ‘n parallelmedium skool te word.

Bekommerde ouers het Vaalweekblad gekontak nadat hullle ‘n brief van die skool ontvang het op Donderdag, 14 Desember na die skole reeds gesluit het.
“Ons as ouers het soveel vrae en daar is nou niemand beskikbaar wat vir ons kan antwoorde gee nie,” kla van die ouers.
Daar staan egter duidelik in die brief dat daar in die eerste week van 2024 ‘n ouervergadering sal wees.
Daar word ook gesê dat ouers wat vooraf meer inligting verlang, direk met die hoof, ‘n personeellid of enige Beheerliggaamslid kan gesels.
“Ons was onbewus van die skool se situasie en wonder of ons enige insae oor die besluit sal hê. Sal ons as ouers geleentheid hê om te stem voordat enige besluit geneem word,” vra een van die ma’s mev. Michelle Thomas.

Die skoolhoof, mnr. C.J. van Dyk het in die brief die situasie so verduidelik:
Parallelmedium beteken dat die skool ‘n Engelse baan het vir Engelssprekende leerders en ook ‘n Afrikaanse baan vir Afrikaanssprekende leerders.
Die skool sal dus steeds dieselfde vakke in beide tale aanbied, wat beteken dat die skool baie meer onderwysers gaan bykry en dit sal ook ander finansiële voordele vir die skool inhou.
Ons Afrikaanse baan gaan dus voort soos normaal. Alle vakante poste is reeds gevul in die Afrikaanse baan en ons is honderd persent gereed vir 2024 in hierdie baan.
Uiters bekwame personeel is aangestel in die plek van personeel wat ons verlaat en ons is baie dankbaar daarvoor.
Die personeel is positief oor hierdie verandering en die skool se voorwaardes word op die huidige stadium bespreek met die Departement.
Die Beheerliggaam en die personeel sal geen verandering laat plaasvind wat nie voldoen aan ons vereistes nie en ‘n skriftelike onderneming van die Departement t.o.v. volle ondersteuning.
Hiermee wil ons graag ons ouers inlig oor hierdie verandering wat onafwendbaar is, sodat almal met ‘n positiewe gemoed in hierdie beplanningsfase kan ingaan.
Die Beheerliggaam sal hierdie beplanning deurvoer en alle inligting sal tydens die ouervergaderings gedurende die eerste week in 2024 aan ons ouers deurgegee word.
Enige iemand wat vooraf meer inligting verlang, kan direk met die hoof, ‘n personeellid of enige Beheerliggaamslid gesels. Weer eens versoek ons u om nie na oningeligte persone se stories te luister nie.
Ons wens u weer eens ‘n Geseënde Kerstyd toe en vertrou dat die Nuwe Jaar vir elkeen baie voorspoed en vreugde sal inhou. Geniet ‘n ware Christusfees met u familie!
