‘n Bosfee met ‘n sagte hart
Vaalweekblad het by een van die Vaaldriehoek se kunstenaars, Malene Wattenbach gaan kuier. Lees meer...
MEYERTON. – Malene Wattenbach is ‘n erelid van die Vereeniging Kunsvereniging. ‘n Organisasie waaraan sy al sedert 1988 behoort. Kuns is deel van haar menswees.
Enige vorm van kuns. In die boomryke voortuin staan ‘n swaar pot op ‘n kunstige mosaïek sirkel. “Ek het die mosaiek gedoen tydens die Covid-inperking,” vertel sy.
Skilder en teken doen sy elke dag. Daar sonder kan sy nie. Die skryfgogga het haar ook gebyt en so het sy al toekennings ontvang vir haar gedigte en broei daar maar altyd’n kinderverhaal of twee in haar kop.

Malene sê hulle was vyf kinders in die gesin en almal is kunstig. “My ma en pa was albei kunstenaars. Hulle het mekaar destyds as kunsstudente ontmoet,” glimlag sy.
Oor haar pa, PCP van Emmenis, gesels sy graag. Sy onthou die dae wat hy ‘n kantoor by die Uniegebou gehad het as heraldikus en sy haar verbeel het die grote gebou en tuin is haar kasteel.
Haar pa was naas kunstenaar ook onderwyser en die gesin het onder andere in Graskop en Elandshoek gebly, maar “hy het altyd weer teruggekeer Pretoria toe,” onthou sy.
Kleintyd het Malene mense soos die digter Totius en beeldhouer Coert Steynberg ontmoet as deel van haar pa se uitgebreide vriendekring.
Malene is Duits magtig, want meer as vyf dekades gelede het sy op ‘n jong Duitster verlief geraak. Hans Wattenbach het in Duitsland grootgeword en was een van die werkers wat deur die groot fabrieke in Vanderbijlpark oorgebring is.
Die egpaar het eers in ‘nwoonstel in Vereeniging gebly, terwyl Hans vir hul ‘n huis laat bou het in Meyerton. Vandag woon sy steeds in dieselfde huis, naby die Kliprivier met al die ou groot bome op die oewer.
Hans is twee jaar gelede oorlede, maar Malene gaan dapper voort sonder hom. Haar seun bly darem nog in Meyerton, maar haar dogter woon al etlike jare in die VSA.
Malene is trots op haar twee kleindogters en een kleinseun. “My kleindogters het van kleinsaf saam met my geteken en die laaste keer toe my kleinseun van Amerika kom kuier het, het ons ‘n boomhuis gebou en lekker daarin gespeel,” vertel sy met oë wat vrolik skitter.
Malene het’n fyn aanvoeling vir mense en die natuur. Bome en klippe trek haar aan en sy skilder graag bos tonele.
“Ek is’n bosfee,” lag sy en staan onder een van die grootste en oudste bome in die tuin vir ‘n foto.
Haar siel in haar oë. Sy kyk met ‘n kunstenaarsoog na die wêreld, verby die pyn, seer en lelik en maak alles weer mooi met haar towerkwas.
