Local newsNewsNews

The Beast 2023 – Duan du Toit – leef vir sy rugby

Vaalweekblad se matriekafskeid, Beauty & The Beast se wenners is aangekondig. Ek het by The Beast 2023 gaan kuier. Ontmoet Duan du Toit...

SASOLBURG. – Duan du Toit skud sy kop oor die hele affêre. Dis sy ma, Elrene wat hom ingeskryf het vir Vaalweekblad se Matriekafskeidkompetisie.

Hy het eers daarteen geskop, te bang die ouens by die skool gaan hom terg, maar nou dink hy sy ma was reg. Hy kan hoeka doen met die prysgeld, en skool is darem nou verby.

Duan in aksie as stelskopper op die rugbyveld.

Duan het so pas matriek aan die Hoërskool Transvalia voltooi. Hier het hy goed gevaar in akademie, maar sy hartklop lê by rugby. Tot in graad 11 het hy krieket ook gespeel, maar uiteindelik het rugby koning gekraai.

Hoe dan anders met ‘n pa, Johan du Toit, wat die NWU Vanderbijlpark se o.21’s afrig en ouboet Divan wat hierdie jaar al vir die Valke se Curriebekerspan uitgedraf het en Varsitybeker gaan speel?

Duan gaan volgende jaar met ’n sportbeurs in Potchefstroom Ekonomie en Risikobestuur studeer en dan gaan hy natuurlik rugby speel.

“Ons het gister die zoom-meeting gehad, die rugbyjaar skop al 6 Januarie af en ons het ‘n vier weke oefenkamp nog voor die universiteit begin,” vertel hy opgewonde.

Die jong losskakel het groot drome en glimlag breed by die gedagte dat hy dalk eendag Handre Pollard se ervare skoene kan volstaan.

Duan saam met sy ouers Johan en Elrine du Toit na ‘n prysuitdeling by HS Transvalia.

Hierdie jaar het hy vir die Valke Cravenweek gespeel en volgende jaar hoop hy om vir The Young Guns of Leopards o.19 te kan uitdraf.

In die 2023 rugbyseisoen het Duan 124 punte in die SDC Noordvaal rugbyliga aangeteken.

Self is hy ‘n Stormer ondersteuner. “Nou al seker 10 jaar,” vertel hy en lag. Sy pa het hom jare gelede verplig om ‘n brief te teken dat hy lewenslank die Stormers sal ondersteun, nadat hy kort-kort van span verander het.

Natuurlik is sy pa ‘n groot WP-man. Wanneer hy nie besig is met rugby en akademie nie, hou Duan van draf en fietsry en een van die dae gaan hy weer vir hom’n off-road motorfiets aanskaf.

Op die oomblik moet hy net eers ‘n motor kry om die lang pad Potchefstroom toe mee aan te durf volgende jaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button