The Beauty 2023: Nederige Phoebee dra die kroon
VEREENIGING. - Sy het 'n natuurlike skoonheid en 'n nederige persoonlikheid wat mens sommer dadelik laat besef ... Phoebee Steyn (18) is 'n waardige wenner van Vaalweekblad se 2023 Beauty and the Beast matriekafskeid-kompetisie.
Vaalweekblad wil eerstens al die matrikulante bedank wat aan die kompetisie deelgeneem het. Julle het voorwaar almal pragtig gelyk en elkeen kan baie trots voel!
“Dit was my ma wat my ingeskryf het. Ek het regtig nie eers gedink ek staan ‘n kans nie,” sê Phoebee (uitgespreek Fiebie).
Maar Phoebee het haarself onderskat, en hoewel daar nog vele ander pragtige deelnemers was, dra sy vanjaar die kroon en is ook R500 ryker.
Haar treffende rok is deur Ester Loubsher van Stigma Fashion ontwerp.


“My raad aan volgende jaar se matriek meisies is om vroegtydig te begin beplan vir die groot aand. Soek rond vir style waarvan jy hou en beplan wat se kleur die mooiste by jou en die rok gaan pas,” sê Phoebee.
“Beplan ook vroegtydig vir jou grimering en hare, en bespreek ‘n goeie fotograaf om die oomblik vir ewig vas te vang”.
Sy praat uit ondervinding want sy het haar keuse vanjaar so op die nipperjie gemaak.
“Ek is baie lief vir ligblou, maar het op die laaste oomblik besluit op die liggroen/aqua materiaal vir my rok,” lag Phoebee.
Dit was egter ‘n goeie besluit want haar rok het beslis die oog gevang.

Phoebee het die matriekafskeid saam met haar kêrel van die afgelope twee jaar, Divan Lubbe (een van die Beast-finaliste) bygewoon.
Hulle het ook saam besluit om nie die “after party” by te woon nie, maar eerder ‘n “movie night” verkies met aarbeie en sjokolade in stede van drank.
Albei het hul hoërskool loopbane aan die Hoërskool Overvaal voltooi.

Hoewel sy effens teruggetrokke voorkom, het die jong dame baie hoogtepunte behaal waarop sy trots kan voel.
Phoebee is een van die skool se akademiese uitblinkers. Al die akademiese erekleure balkies op haar skoolbaadjie kan hiervan getuig.
Sy het ook vanjaar vir die eerste netbalspan uitgedraf.
Boonop dans sy ook reeds vandat sy 5 jaar oud is, maar sy het dit vir eers opsy geskuif om haar matriekjaar af te handel.
Phoebee is goedgekeur om volgende jaar sielkunde aan die NWU Potchefstroom-kampus te studeer.

