Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Baie mense is gaande oor inkopies doen. Ek is nie een van die baie mense nie... Lees meer.
RUBRIEK. – So op die laaste Vrydag voor Kersfees het ek ʼn onderhoud in die Gat. Ek moes van beter geweet het.
Toe ek die draai in die parkeerterrein vat is dit net motors en mense. Vat my ʼn 10 minute om ʼn parkering drie dagreise te voet van my bestemming te kry.
Die tyd van die jaar is inkopies vir my ʼn straf. Alhoewel inkopies is altyd vir my ʼn marteling. So het ek een betrokke inkopiedag op ʼn stadium neergepen:
“Einde van die maand. Noodwendige inkopies wat gedoen moet word. Ma het weer die winskopies onder oë gehad.
Ons stap eerste by daai apteek in wat lankal baie meer as medisyne smous. “Vat ‘n mandjie” sê sy.
Ek is niksvermoedend. Ons moet mos net Ma se maandvoorskrif kry. Toe nou nie… Die mandjie word al hoe swaarder. Ek voel spiere in my bo-arm bult wat ek nie van geweet het nie.
Ons stop by die huis. Ek skraap een van daai bruistablette wat energie moet gee, want die groot kruideniersware inkopie tog lê voor.
“Ons kan môre ook gaan. Ons moet net sorg dat ons 8 uur daar is, dis einde van die maand” stel Ma voor.
Die gedagte gee my summier maagpyn. Ek loer na die tyd. Dis nog nie 11 uur nie Hoe besig kan dit op ‘n Vrydagoggend wees?
My tweede verkeerde aanname van die dag. Dis ʼn miernes. “Ons moet twee trollies vat. Die melk is op special” sê Ma en gryp ‘n trollie.
Ek vat die volgende een. Daar is nie tyd om Die Toets te doen nie. Ek glo ek moet eers seker maak dat ek ‘n trollie met een hand kan beheer alvorens ek die gange aandurf.
Maar Ma is al meters vooruit en ek moet wikkel. Eerste draai gaan dit nog skaflik, maar toe laai ek die bokse melk… Hoe verder ons loop, hoe moeiliker stoot die trollie. Hak om die draaie, weier om reguit te loop.
Op ‘n kol kom Ma op my afgeloop met een of ander produk in die hande. Eers toe sy by my is, besef sy, daar is fout. Ma het haar trollie verloor.
Ek maak ‘n u-draai en begin soek. Kry niks. Besef ek het Ma ook verloor. Maak weer ‘n u-draai en loop so skeef-skeef met die gekrokte trollie terug.
Ma verskyn vanuit ‘n paadjie op linkerhand. Sy het haar trollie gekry. Neffens die piesangs gewaar ek uitkoms… ‘n leë trollie.
“Ma wag!” Sy steek verbaas vas. Met die dat sy voor loop het sy nie gesien watse stryd het ek aan die gang nie. “Ek kan nie meer met die trollie nie” verklaar ek en begin alles oorpak.
Ure later is ons tuis en alles is uiteindelik uitgepak. Ek is bly dis verby vir ten minste ‘n paar weke.
En toe hoor ek Ma praat van ons gaan môreoggend Gat toe. Sy het nog nie alles op haar winskopie-lysie gekry nie. As ons vroeg ry, hoe erg kan dit wees?”
