Local newsNewsNews

Wonderwerke gebeur as mens na jou dokter luister

Gerda Janssen, onderwyseres by Eurekaskool, se 2023 was baie hartseer, maar daar het ook 'n wonderwerk geskuil. Lees meer...

VANDERBIJLPARK – 2023 was ʼn moeilike jaar vir Gerda Janssen. Ses maande gelede het sy haar sielsgenoot en lewensmaat, Benny, aan die dood afgestaan.

Dit het haar lewe totaal omvergewerp, maar êrens het sy ook besef sy sal na haar eie welstand moet omsien.

Gerda het die 24ste Desember haar fiets versier en gaan fietsry soos wat sy en Benny altyd gedoen het.

Sy leef al vir 10 jaar in baie pyn as gevolg van ‘n seldsame longsiekte, Lymphangioleiomyomatosis (LAM).

Gerda sê: “Die siekte veroorsaak selle wat in jou longe groei en die long dan al hoe kleiner maak en in my geval al na my lewer ook versprei het.

“Die medikasie wat ons gebruik is om eendag, as mens dit sou nodig hê, ‘n longoorplanting te kry.”

In ʼn onderhoud vroeër vanjaar het sy gesê sy weet nie meer wat dit is om reg te kan asemhaal nie. Asemhaling het soos messteke deur haar longe gevoel.

“Ek het destyds navorsing oor die siekte gedoen en die meeste artikels het gesê mense met LAM het ʼn lewensvooruitsig van 10 jaar. Dit was scary,” vertel sy.

‘n Boer maak ‘n plan, en ‘n Gerda maak twee. As die fietslig nie wil werk nie, dan versier jy maar jou fiets met kersliggies.

Na Bennie se dood het sy met hernude ywer begin oefen. “Ek wou net die gelukkige hormone in my brein vrystel.” Sy het ook aan haar geesteswelstand begin werk.

Onlangs is sy weer vir ʼn ondersoek na die longspesialis waar hulle die gebruiklike longfunksietoetse gedoen het. “Ek het bietjie benoud begin raak, toe die vrou my die eerste toets vyf keer laat oordoen.”

Die spesialis het haar egter later die goeie nuus vertel. Haar longfunksie was normaal!

“Ek en die spesialis het sommer saam begin huil. Oor Benny wat dood is en oor die groot wonderwerk.”

Gerda skryf die groot verbetering aan haar longe toe aan genade en aan die feit dat sy na haar dokter geluister het.

“Die medisyne, oefening en kop-skoonmaak help regtig. Ek kan nou vir die eerste keer normaal asemhaal. Dis fantasties,” straal sy.

Kersfees was vir haar moeilik sonder Benny, maar sy het die 24ste soos hul gewoonte was, haar fiets nadergetrek en die pad gevat.

“My fiets se lig werk nie, maar toe behang ek die fiets sommer met kersfeesliggies. Ek was duidelik sigbaar,” lag sy.

Alhoewel sy die strate alleen aangedurf het in die aand, het sy nie onveilig gevoel nie.

“Ek was rustig. Om fiets te ry, was altyd my en Benny se happy place. En vir die tydjie wat ek tussen die huise gery het, het ek gevoel hy is by my.”

Sy is dankbaar vir die wonderwerk wat die Here oor haar pad gebring het. “Ek het nou ʼn tweede kans op die lewe. Dis groot!”, borrel sy.

“Ek was by Benny toe hy sy laaste asem uitgeblaas het. Dis asof sy laaste asem, nou my nuwe asem geword het.

2023 sal sy na dese altyd met bittersoet herinnering onthou. Die jaar van haar grootste verlies en seer, maar ook die jaar wat sy weer kon begin asemhaal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button