Grootbek-bielie van 6kg
Grootbek geelvis is 'n bedreigde spesie en vangste word deur hengelaars vrygelaat. Dit staan onder georganiseerde hengelaars bekend as "catch and release."
Wimpie Willemse, ‘n lid van die Hap en Kap Hengelklub in Sasolburg het 2023 met goeie vangste afgesluit.
Hy het op 29 Desember gaan lyne natmaak en ‘n paar mooi geelvisse gevang
Die vangs van die dag was ‘n knewel van 6kg wat hy geflous het met ‘n moddervis viskoppie in die rivierstrome, onderkant die damwal by Deneysville.

Grootbek geelvis is ‘n bedreigde spesie wat dus weer dadelik vrygelaat is.
Slegs kleinbek geelvis word tydens klubkompetisies ingeweeg vir punte. Daar is ook ‘n beperking op die hoeveelheid kleinbek geelvis wat gevang mag word en dit verskil van provinsie tot provinsie.
In die Vrystaat se waters mag net 10 kleinbek geelvis (300mm in lengte gemeet vanaf punt van neus tot in “V” van stert) gevang word deur hengelaars.
Hengelaars wat in kompeterende hengel belangstel en by die klub wil aansluit is welkom om Leon Meyer by 083 775 4639 te kontak.
Die klub se volgende klubkompetisie is 20 Januarie by Jackie Leonard, Vaaldam.
