Local newsNews

‘n Donker Feestyd vir die Burger-gesin

Ooggetuies kan dalk meer lig werp op hoe Werner gesterf het.

 

(OPDATERING op 28 Januarie 2024 : Die Burger-gesin het intussen die persoon wat die tragiese oggend saam met Werner in die ongeluksvoertuig was, opgespoor om meer antwoorde te vind oor wat presies gebeur het)

Die eerste berig oor wyle Werner Burger se ongeluk, wat op 2 Januarie 2024 gepubliseer is:

Die afgelope Kerstyd en Nuwejaar, wat gewoonlik ‘n vreugdevolle tyd in Koos Burger en sy gesin se huis is, is dié jaar deur hartseer oorskadu. Koos en sy vrou, Elmarie, se seun Werner (30) het in die vroeë oggendure van 21 Desember 2023 in ‘n motorongeluk gesterf. Wat hul verdriet erger maak is dat hulle nie weet wat gebeur het nie en sukkel om afsluiting te vind sodat hulle hul seun se dood kan begin verwerk.

Die Burgers, wat baie bekend in Vaaldriehoekse motorfietskringe is, het die noodlottige dag verneem dat Werner op die R57-roete naby Hoff’s Place (voorheen bekend as Rafters) in ‘n enkelvoertuig motorongeluk betrokke was. Hy was saam met ‘n ander persoon in ‘n groen Jeep toe die voertuig vermoedelik van die pad geloop en gerol het. Werner het op die ongelukstoneel gesterf. Die vermeende bestuurder van die Jeep het oorleef, maar die Burgers kon nog nie daarin slaag om met hom kontak te maak nie.

Vir die Burgers hang daar nog baie onbeantwoorde vrae oor die gebeure. Die gesin wil graag met ooggetuies wat meer weet oor wat presies gebeur het, in verbinding tree. Ooggetuies of enigiemand anders met inligting word versoek om Koos by 084 288 6045 te kontak.
Volgens Werner se suster, Charmaine, is Werner se plek leeg en die gesin kry swaar om sy heengaan te verwerk.

Werner is op 18 November 1993 in die ou Moedersbond in Pretoria gebore en het in Vereeniging grootgeword, waar hy aan die Laerskool Handhawer en Hoërskool Vereeniging skoolgegaan het.
Na skool het hy by Radius Engineering en daarna by AMG Engineering gewerk.

“Hy was sagmoedig en liefdevol en het almal met respek behandel. Hy was vreeslik lief vir motorfietsry en om saam met familie en vriende te braai. Ons sal hom veral onthou vir sy glimlag wat altyd reg rondom sy kop gegaan het, sy helpende hand vir ander en vir sy liefde teenoor sy medemens,” sê Charmaine. Koos beaam dat hy ‘n baie liefdevolle mens en altyd vol grappe was.

Werner word buiten sy ouers ook oorleef deur sy dogter Lea, sy sussies, swaers en boetie Billy, sowel as die res van sy familie en groot vriendekring.
Sy ouers nooi almal wat hul laaste eer aan hom wil bewys uit om sy gedenkdiens by te woon. Dit vind Woensdag, 3 Januarie, by Chrisma Fellowship in Alexanderstraat 21, Duncanville, plaas. Die diens sal om 11:00 deur pastoor Vernon Bosman gelei word.

Werner Burger, wat op 21 Desember 2023 op die R57-roete op pad na sy ouerhuis in ‘n motorongeluk beswyk het.
Die wrak van die voertuig wat in die ongeluk betrokke was.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button