Olga-wolf – ‘n jaar na die groot katgriep
Dit gaan goed met Vanderbijlpark se bekende wolfpak. Klein Olga het fisies heeltemal herstel nadat sy verlede Januarie met katgriep gediagnoseer is. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – Januarie 2023 was Olga en Odin (jnr) die jongste van die Bras-Nel wolfpak skaars viermaande toe Olga katgriep opgedoen het. Sy was lank in die dierehospitaal.
Die verligting was groot toe sy ontslaan is. Daarna het ʼn lang pad van herstel gevolg. Vandag is Olga en Odin (jnr) twee gesonde, lewenslustige wolwe.
“Hulle groei nog, veral Odin is die ene kop en pote,” lag Belinda Bras-Nel.

Sy beskou haarself nie as hul eienaar nie, maar wel as die een wat vir hul ʼn spasie bied waar hul net wolf kan wees.
“Ek leer baie by die wolwe. Olga het as baba wolf nie ʼn bang haar gehad nie. Sy het nie geskroom om dinge te ondersoek nie, maar vandat sy verlede jaar in die dierehospitaal was, is sy meer skrikkerig en skugter.”

Met die res van die, nou al bekende wolf-pak van Vanderbijlpark, gaan dit goed.
Akaï, die oudste, gaan sy eie gang. Met die onlangse hittegolwe het hy vir die eerste keer sedert sy babadae weer vanself in die huis gekom en hom onder die waaier tuisgemaak.
Fen, wat vir jare die baba in die huis was, beskryf Belinda as steeds lief en dierbaar.

Hy hou net nie daarvan as te veel dinge tegelyk gebeur nie. Op die dae wat die vuilgoedtrok verby moet kom is hy onrustig totdat die trok verby is.
Odin (jnr) het ʼn onskuldige gesig en lyk alte veel soos ʼn wyse professor met sy donker kringe om die oë.
“Hy kan ook maar goed stout wees, maar selfs dan doen hy dit rustig,” vertel Belinda.
Oujaarsnag se vuurwerke was vir die wolwe nie lekker nie. “Ons het al die deure toegemaak en saam met die wolwe in die gang gesit.

“Die wolwe was onrustig. Akaï veral hou nie eens van swaar weer nie, so die bom crackers was vir hom verskriklik.”
Die pak het darem die volgende dag hul verlore slaap ingehaal. Almal mis nog vir Akita wat verlede jaar onverwags oorlede is.
“Sy het ʼn groot leemte gelaat. Ek huil nog oor haar,” sê Belinda wat een van Aikita se oogtande in ʼn hangertjie laat set het en dit nou gereeld dra.
Belinda, wat as diere-fluisteraar bekend is, het weer eens beklemtoon dat wolwe en honde heeltemal van mekaar verskil.
Sy is bekommerd oor die toename van wolwe wat as troeteldiere in Suid-Afrika aangehou en geteel word.
“Elkeen van my wolwe het oor my pad gekom. Ek het hul nie gaan soek nie. Ek teel ook nie met hulle nie. Almal, behalwe Odin (jnr) is gesteriliseer en hy gaan vroeg in die nuwe jaar vir sy operasie.
“Wolwe het ʼn groot erf nodig. Hulle is groeps- en gebiedsgebonde en baie sensitief. Jy kan hul nie soos honde hanteer nie,” het sy gewaarsku.

Belinda verkoop weer ʼn beperkte aantal jaarkalenders met mooi foto’s van die wolwe teen R350 per kalender.
Die fondse help om die veeartsrekeninge te dek. Kontak gerus vir Belinda op WhatsApp by 82 929 8938 om een of meer te bestel.
