Jong wolf red voëltjie
Goeie samewerking tussen mens en wolf red voël se lewe. Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – Vlak voor Kersfees was Belinda Bras-Nel die aand besig om die plante water te gee toe sy skielik ʼn twiet hoor.
Sy het afgekyk en gesien haar jong wolf, Olga lê langs ʼn baba voëltjie. Olga het beskermend oor die klein dingetjie gewaak. Die voëltjie was baie swak en moes uit ʼn nes geval het.

Belinda is ʼn groot diereliefhebber en het dadelik die baba, wat sy Kelvin die Kersfees Elf gedoop het, na haar vriendin Christell-marie Williams geneem in Drie Riviere.
Christell-marie is bekend as die Bird Lady in die Vaaldriehoek en sy het dadelik die voëltjie onder haar sorg geneem.
“Ek het vir haar gesê Kelvin kort ʼn Kersfees wonderwerk,” vertel Belinda. Wel, met baie liefde en toewyding is Kelvin nou goed op pad na herstel en word hy vinnig groot.
Volgens Belinda het Christell-marie ʼn besonderse slag om met voëls te werk. Sy het ʼn groot hart vir elke af-vlerk geveerde vriend wat by haar aanland.
Sy sit ure in om te sorg dat elkeen die beste behandeling en koestering kry sodat die voëls kan herstel en gerehabiliteer kan word.

Indien daar mense is wat donasies wil gee om Christell-marie in haar groot taak te help, kan Belinda geWhatsApp word by 082 929 8938.

