VANDERBIJLPARK. – Die Vaal Voëlklub nooi almal uit om saam te kom op hul eerste Coordinated Waterbird Count (CWAC) vir 2024. Die groot dag vind Saterdag, 27 Januarie plaas.
Om jou te herinner aan wat alles op so ‘n dag gebeur, hier is hoe die dag in Januarie 2020 verloop het:
As jy wil saamgaan op ‘n CWAC, uitgespreek as “quack”, moet jy bereid wees om vroeg te roer op ‘n Saterdagoggend.
Sesuur het almal bymekaar gekom vir die nodige registrasie en om te hoor wie vaar waar en wie tel saam op watter boot.

Foto’s: Gerda Bruinette
Een van die kleiner bote vaar in die omgewing van Lochvaal, terwyl die ander een koers kry rigting Taaibosspruit.
Op die groot boot word al die watervoëls op en langs die Vaalrivier afgemerk.
Eers word daar uitgekyk vir die geveerdes aan die Gauteng kant en met die omdraaislag word die Vrystaat kant se voëls getel.
Daar is natuurlik altyd die moedswillige geveerdes wat nie by hul kant van die rivier hou nie.
Vroegoggend is daar ‘n ge-vlerkklap en snawel-byt dat die water spat aan die gang is in die middel van die rivier.
Dit blyk toe Egyptian Geese (kolganse in Afrikaans, maar dis ‘n eend en nie ‘n gans nie) te wees, te midde van ‘n liefdesdriehoek.

Later in die oggend het ‘n reusereier vermaak verskaf toe hy eers aan die Vrystaat kant geposeer het en daarna met groot vertoon oor die water gevlieg het.
‘n Rukkie later het hy egter weer teruggevlieg en soos ‘n wafferse model bo-op ‘n wilgerboom gaan staan.
Elke keer het die kameras geklik, want soos die skipper gesê het: “Die reier bly dieselfde, maar die agtergrond verskil darem.”
Vroegoggend se koue wind en reën het later plek gemaak vir sonskyn. Soos die temperatuur gestyg het, het al hoe meer voëlspesies hul verskyning gemaak.
Vlak voor middagete was alle vrywilligers weer op die wal. Terwyl almal aan ‘n heerlike middagete geborg, soos die bote ook, deur Stonehaven-on-Vaal, gesmul het, het die bootleiers die dag se statistiek afgerond.
Daar is 2 089 voëls getel wat uit 36 verskillende spesies bestaan het. Die kolganse was by verre die meeste op 692, maar die grootste opgewondenheid is veroorsaak deur die waarneming van vier nimmersat ooievaars (Yellow Billed Storks) in die Taaibosspruit-area.
Vir meer inligting oor die Vaal Voëlklub se doen en late, kontak gerus vir Rina de Klerk by 082 626 6990. Om saam te gaan voëls tel, kontak Cliff by 076 503 8683.
