Nog ʼn dag sonder krag, geen lig in sig
Dag 5 sonder krag in 'n normaalweg rustige straat in CW 1. Dit het alles met 'n gat begin, of dalk nie? Lees meer...
VANDERBIJLPARK. – ʼn Week gelede was daar ʼn gat op die sypaadjie. ʼn Watergevulde gat veroorsaak deur ʼn nalatige span ELM werkers (of was dit subkontrakteurs?) wat 1 November ʼn kabel wou regmaak.
Op daardie stadium het niemand in die straat gekla oor elektrisiteitsprobleme nie.

Wel, die 1 November-span het ʼn pyp getref, gesê hulle sal môre aandag gee, maar môre het nooit gekom nie.
Donderdag, 4 Januarie 2023 beleef die betrokke straat hul eerste beurtkrag vir die nuwe jaar. Van 16:00 tot 20:00.
Krag kom 20:00 aan, maar kort daarna is daar duisternis by slegs ʼn paar huise in die straat. Onder andere daar by die huis met die gat in die grond en die groen gras groei daarom.
Die ellelange proses van rapporteer en pleit en asseblief tog begin. Vrydagoggend 12:00 het al die huise weer krag, vir ʼn halfuur. Sonder flikkering of waarskuwing is die krag weer weg teen 12:30.
Die hele proses van rapporteer en pleit en asseblief tog begin weer van vooraf. Teen laataand het die laaste huis ook krag.
Daar is vrede. Die waaiers werk. Vroeg Saterdagoggend groet die krag weer. Die boodskap kom vinnig deur. Die kontrakteurs gaan net “gou” ʼn kabelfout herstel.
Deur die loop van die oggend is dan die hele straat, dan die helfte van die straat en soms selfs van die huise in die agterste straat sonder elektrisiteit.
Die kontrakteurs is doenig by verskeie groen bokse en na bewering ook by die klein substasie in ʼn ander straat.
Laat Saterdagaand het net die een kant van die straat krag, die anderkant (letterlik die gatkant) is in duisternis gehuil.
Deur die loop van Sondagoggend lyk dit die kontrakteurs begin vermoed dat die probleem dalk kan lê by die enorme gat op die sypaadjie.
Daar word water uitgeskep ʼn laaigraaf beland op die sypaadjie wat skaars groot genoeg is vir ʼn normale bakkie wat nog van die yslike gedoente.
Uiteindelik is die water uit en die lek reggemaak. Maar, geen elektrisiteit nie. Laatmiddag begin die span verder kap, die keer aan die oorkant van die straat.
Nog ʼn sypaadjie word omgedolwe. Vroegaand se reënbui dwing die werkers tot stilstand. Die hele straat is in donker gehul.
Maandagoggend is die werkers op hul pos. Daar word verwoed rondom die gate gewerskaf.
Eenkant word toegegooi, die anderkant se gat word dieper. Oral steek boomwortels en plastiese omhulsels van kabels uit.
Vlak na middagete, Maandag, 8 Januarie het twee nuwe gate hul verskyning gemaak op aangrensende erwe.
ʼn Mens sien net rooi grond trek. Niemand praat nie. Niemand gee terugvoer nie.
Al wat die inwoners weet, is dat daar êrens ʼn probleem is wat klaarblyklik moeilik opgelos gaan word.
Die yskaste het reeds afgeloop. Niemand waag dit om ʼn vrieskas oop te maak nie.
Al wat vassteek is ʼn moedelose wete dat daar nog ʼn donker, warm nag voorlê…