Ma van 5 sterf ‘n jaar na ernstige padongeluk
Die infeksie het deur Tina se hele liggaam versprei en sy het in septiese skok gegaan. Haar man is oortuig daarvan dat die hospitaal se nalatigheid tot haar dood gelei het.
VANDERBIJLPARK. – ‘n Tragedie het verlede Woensdag in die Sebokeng-hospitaal afgespeel toe ‘n 35-jarige vrou gesterf het weens die nagevolge van ‘n padongeluk wat in 2022 gebeur het.
Mev. Tina du Plessis (35), ‘n huisvrou en ma van vyf kinders, is in November 2022 ernstig beseer toe sy by die kruising van die Barragepad en Frikie Meyer-boulevard deur ‘n voertuig getref is. Die ongeluk het gebeur terwyl sy die pad te voet wou kruis om brood te gaan koop.
Tina het hoofbeserings, ‘n breuk en ‘n grusame wond aan haar regterbeen opgedoen. Haar man, Edwin, sê sy is die aand in ‘n kritieke toestand na die Sebokeng-hospitaal vervoer. “Sy het twee keer klinies gesterf maar die Here het haar elke keer vir ons teruggegee,” sê hy.
Na ‘n hele paar operasies aan haar skedel, wat aanvanklik hoofprioriteit was, kon die dokters uiteindelik aandag aan haar erg beseerde regterbeen gee. Sy was in ‘n stadium vier maande lank in die hospitaal. Verskeie operasies is uitgevoer om die gebreekte been met penne te heg, maar infeksies het aanhoudend ingetree. Die oop wond wou net nie toegroei nie. Sy is uiteindelik huis toe en was van ‘n rolstoel afhanklik omdat sy nie kon loop nie. Die afgelope jaar was ‘n marteling vir haar, maar steeds het sy dapper teen haar omstandighede geveg, sê Edwin. “Sy was altyd hardwerkend en het selfs in haar rolstoel gesit en haar huistake verrig en selfs klere met die hand gewas,” sê hy.
Hoewel die wonde aan haar been mettertyd toegegroei het, was die been dikwels baie rooi en warm – ‘n teken dat infeksie steeds onbeheersd onder die oppervlak gewoed het.
Op Kersdag 2023 het sy baie siek begin voel. “Op 31 Desember is sy toe na Sasolburg se staatshospitaal maar hulle wou haar glad nie help nie,” sê Edwin. “Sy is sonder medikasie huis toe gestuur. Op 2 Januarie, so 16:00 se kant, het sy erg begin opbring, kouekoors gekry en pyn in haar hele liggaam gehad. Ons het die ambulans ongeveer 19:30 gebel maar hulle het eers ‘n rukkie voor 01:00 die nag by ons aangekom. Ek moes my vrou self uit die huis uit dra want die ambulansmense wou nie inkom nie. Sy het geskreeu van pyn,” vertel haar bedroefde man.
Die oggend van 3 Januarie, omstreeks 10:00, het die hospitaal haar familie gebel met die tyding dat Tina gesterf het. Haar beste vriendin, Desere Guthrie, vertel: “Ons is toe hospitaal toe, waar hulle vir ons gesê het Tina was baie, baie siek en dat hulle alles in hul vermoë gedoen het om haar te probeer red. Haar liggaam het in septiese skok gegaan en die infeksie het deur haar hele lyf versprei. Daar was niks wat hulle vir haar kon doen nie.”
Volgens die doodsertifikaat het Tina gesterf aan septiese skok weens osteomiëlitis. Die doodsertifikaat verwys ook na “septiese hardeware” in die regterbeen, wat ‘n onderliggende oorsaak van haar dood was. Edwin is daarvan oortuig dat sy vrou nog sou geleef het as sy van die begin af beter behandeling by die staatshospitaal gekry het en as die regte metaalpenne tydens die operasies in haar been ingeplant is.
“Wie moet rekenskap gee oor ‘n ma wat nou vyf kinders agterlaat? Waar kry mens hulp? My vrou het dit nie verdien om so te gaan nie. Al hierdie dinge kon verhoed gewees het as hulle die operasies reg gedoen het. Sy was die beste ma waarvoor enige kind kon vra en nou gaan ons seuntjie haar nie eers kan onthou nie. Dis baie onregverdig,” sê Edwin.
Tina word buiten haar man en hul seuntjie, Dylan-Leon (2 jaar en 8 maande), ook oorleef deur vier kinders uit haar vorige huwelik: Aiden (5), Kayleigh (7), Luanne (16) en Angelique Luiters (18). Klein Dylan-Leon sal deur Edwin versorg word en die vier ouer kinders deur Tina se eksman.
Te midde van Tina se dood is daar die verdere terugslag dat Edwin sy pos as motorwerktuigkundige kwyt is nadat sy werkgewer in Desember van die personeel moes aflê. “In plaas van kwaad wees, het Tina gesê ‘moenie worry nie, my man, jy gaan volgende jaar regkom’. En nou is sy nie eens meer hier nie,” sê Edwin hartseer.
Tina het nie ‘n begrafnispolis gehad nie en die gesin sukkel om geld vir haar laaste groet bymekaar te skraap. Berthom Begrafnisdienste het intussen aangebied om ‘n verassing teen ‘n afslagprys te doen, maar selfs dié bedrag is buite Edwein se bereik. Enigiemand wat ‘n bydrae wil maak, kan ‘n inbetaling doen aan Berthom Begrafnis Dienste, Absa (tjekrekening), Rekeningnommer: 4106 579 814. Verwysing: Tina. Indien meer geld inbetaal word as wat vir die verassing benodig word, sal dit na die gesin gekanaliseer word, sê me. Turiza Olivier van Berthoms.


WAARSKUWING – GRAFIESE FOTO’S: Die foto’s HIER onder toon Tina se beseerde been in verskillende stadia van herstel en kan sensitiewe kykers ontstel. Moenie verder afrol as jy nie daarna wil kyk nie.




