Local newsNewsNews

Vuurwapendiefstal uit staat se eie geledere wek kommer

"Terwyl daar groot druk is op wettige, private vuurwapenbesit, is die staat self ʼn groot bron van vuurwapenverskaffing aan misdadigers met weinig erns om dit te keer."

Dit is die woorde van Dr. Pieter Groenewald (leier van die VF Plus) in ‘n mediaverklaring wat gister uitgereik is.

Hy het verskeie vrae aan die ministers van verdediging en militêre veterane, die polisie asook justisie en korrektiewe dienste gevra, oor onder meer staatsvuurwapens wat verlore geraak het of gesteel is.

“Wat opvallend is uit die antwoorde, is die ligte strawwe wat opgelê word aan lede van die departemente weens die verlies of diefstal van vuurwapens en/of ammunisie.

“In sommige gevalle is skuldige lede met ʼn enkele maand se salaris gestraf of net skriftelik gewaarsku wat duidelik nie as afskrikmiddel sal dien nie,” sê Dr. Groenewald.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dit blyk ook dat daar erg voete gesleep word met die ondersoek en vervolging van lede, wat die indruk skep dat geen ware erns bestaan om vuurwapendiefstal daadwerklik stop te sit nie.

Hierdie situasie sluit aan by die gebeure rondom die voormalige polisiekolonel Christiaan Prinsloo (lees Vaalweekblad berig deur op die foto hieronder te klik) wat daaraan skuldig bevind is dat hy vuurwapens in polisiebesit gesteel en aan bendes verkoop het.

Prinsloo het luidens mediaberigte skaars drie jaar en tien maande van ʼn vonnis van agtien jaar uitgedien.

Vrae van die VF Plus aan die minister van polisie oor misdade wat tot dusver met die gesteelde wapens gepleeg is, is nie beantwoord nie aangesien die inligting deel vorm van ʼn klasaksie van naasbestaandes van slagoffers teen die polisie.

Die saak sloer ook reeds sedert vroeg verlede jaar.

Klik op die foto om volledige berig oor Prinsloo te lees.

Wat wel uit mediaberigte bekend is, is dat van die 2 000 gesteelde vuurwapens teen 2016 reeds gekoppel was aan die dood van 89 kinders, terwyl 170 kinders daarmee gewond is.

“Die VF Plus sal vra dat hierdie antwoorde verskaf word sodra die klasaksie afgehandel is.” sê Dr. Groenewald.

Volgens die mediaverklaring is daar by die weermag 42 vuurwapens sedert die boekjaar 2019 tot einde verlede jaar gesteel.

Kommerwekkend is dat 33 hiervan R4- en R1-aanvalsgewere is. Meer as 3 000 rondtes ammunisie vir die aanvalsgewere is ook gesteel.

Die ander wapens is hoofsaaklik handwapens. Ook hier is bykans 3 000 rondtes ammunisie gesteel.

Slegs vyf weermaglede is suksesvol aangekla. Die res van die sake is steeds onafgehandel of daar was geen vervolging nie.

Wat justisie en korrektiewe dienste aanbetref, was daar sedert die boekjaar 2019 tot einde verlede jaar 19 voorvalle waarin 18 handwapens en 295 rondtes ammunisie gesteel is of verlore geraak het.

Twee lede is afgedank. Die ander is gewaarsku of het hoogstens ʼn maand se salaris verbeur. Voorkomende stappe sluit in maandelikse inspeksies en die daaglikse inhandiging van vuurwapens.

“Herdie inligting maak dit duidelik dat die probleem groot is en die optrede, vervolging en voorsorg min. Intussen is daar ʼn stroom gevaarlike vuurwapens van die staat wat in misdadigers se hande beland,” sê Dr. Groenewald.

Volgens Dr. Groenewald kan die situasie omgekeer word, indien die staat met dieselfde ywer optree as sy pogings om wettige, private vuurwapenbesit te kriminaliseer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button