Metz-broers soos ‘n ‘pack’
Die oudste van die Metz-broers van Leehof het getuig dat die broers mekaar probeer "beskerm" het op die aand wat hulle die oorledene, Benjamin Lotz (52), in sy erf aangeval het.
*WAARSKUWING: Die berig vat grafiese beeldmateriaal wat sensitiewe lesers kan ontstel.
BENONI. – “Ons is soos ‘n ‘pack’…ons het mekaar se rûe.”
Dit was die antwoord wat Shane Metz (24), die oudste van die Metz-broers van Leeuhof, gegee het toe hy deur die staatsaanklaer, adv. David Molokomme, gevra is of dit werklik nodig was vir sy broer, Raymond Metz (20), om ook oor die heining te spring op die aand wat Shane en sy jonger broer, Simon Anton “Babatjie”, met die oorledene, Benjamin Lotz (52), binne sy erf in Leeuhof gestoei het.
Lotz het op die aand van 22 November 2021 aan sy beserings beswyk wat hy tydens die geveg met die broers opgedoen het.

“Ek kon nie my broer help nie, want my arm was ontwrig. My broer (Simon Anton “Babatjie”) het om hulp geskree (toe Lotz hom in ‘n wurggreep beetgehad het). Ons is soos ‘n ‘pack’. Dit is nie soos ‘gangsters’ nie, ek hou nie van die woord ‘gangster’nie, maar ons kyk na mekaar se rûe.”
Molokomme het dit aan Shane gestel dat sy broers oor die oorledene se hek gespring het uit “weerwraak” nadat Lotz hulle aangerand het en nie om mekaar te “verdedig” soos wat hy (Shane) voorgee nie. Shane hou vol sy broers het by die bakleiery betrokke geraak om mekaar te beskerm.
Volgens getuienis wat gelewer is was Shane die eerste van die broers wat oor die hek gespring het, gevolg deur Simon Anton “Babatjie” en toe Raymond.
Shane het getuig dat hy oor Lotz se heining gespring het nadat Lotz twee bakstene na sy ma en ‘n halwe baksteen in sy rigting gegooi het. Shane het die oorledene, voordat die laaste baksteen in sy rigting geslinger is, gewaarsku dat hy gaan seerkry indien hy sy ma, Lindi, raakgooi.
Volgens Shane het die oorledene hom met ‘n pyp geslaan kort nadat hy oor die hek gespring het. Hy kan nie onthou hoeveel keer nie, maar het vertel dat Lotz hom eerste geslaan het. Sy arm is boonop tydens die geveg ontwrig.


Die staat betwis die feit dat Shane eerste deur Lotz geslaan is. Die staatsaanklaer het dit aan Shane gestel dat ander getuies reeds getuig het dat Shane eerste die oorledene met sy hande getakel het.
Shane het getuig dat Raymond hom vroeër op die aand van die moord (voor die onderonsie by Lotz se huis) vir hulp gevra het nadat Raymond en sy vriend, Estivan Delport, deur die oorledene aangeval is tydens ‘n onderonsie oor harde musiek. Shane het tydens kruisondervraging aan die staatsaanklaer gesê dat hy sy “lewe op die lyn” sou sit vir sy broers.
Molokomme wou by Shane weet of hy dan bereid sou wees om enige iets te doen om Raymond te help. Hierop het Shane geantwoord dat hy enige iets sou doen – “behalwe om ‘n moord te pleeg”.
Hierop het die staatsaanklaer gesê: “Ongelukkig is ‘n moord (op die betrokke aand) gepleeg, maar ons sal later daarby uitkom…” Die Metz-broers se prokureur, Charles de Beer, het die staatsaanklaer aangespreek oor sy manier van ondervraging, waarna Molokomme verskoning gevra het en hy dié stelling op ‘n ander manier gestel het.

Shane het op die staatsaanklaer se woorde gereageer en gesê dat hy nie kwadegevoelens teenoor iemand sou hê wat hom van moord beskuldig nie, aangesien hy op die aand van die moord by was.
Hy het egter bygevoeg dat hy nie die een was wat moord gepleeg het nie.
Shane het Dinsdag, 9 Januarie emosioneel geraak en in trane uitgebars voor hy begin getuig het oor toe hy gesien het hoe sy broer die oorledene aan die linkerkant van sy maag met ‘n mes steek.
“Ek het weggekyk (nadat ek gesien het hoe Raymond vir Lotz twee keer in die maag steek),” het hy getuig.
*Lees meer oor die saak in Vrydag (12 Januarie 2024) se gedrukte weergawe van Vaalweekblad.

