Local newsNewsNews

Dogter (15) erg deur hings gebyt

MEYERTON. - Sy was nog altyd lief vir perde, maar nou lê Chantelize van Dyk in die hospitaal nadat sy so erg deur ‘n hings gebyt is dat sy ‘n veloorplanting moes kry.

Die Van Dyk-gesin het sowat ‘n jaar gelede ‘n kleinhoewe in Boltonwold gekoop met die vooruitsig om te boer.

Dié lewe het so reg in Chantelize se kraal geval. As sy nie perdgery het nie, het sy met werkies op die kleinhoewe gehelp.

Chantelize ry reeds sedert 4-jarige ouderdom perd en is baie lief vir perde.

Chantelize op haar eie perd, Bubbles.

Sy was op 28 Desember omstreeks 09:30 besig om ‘n heining op hul kleinhoewe tydelik te probeer regmaak, in ‘n poging om hul buurman se hingste van hul merries te probeer weghou.

Die buurman het glo vyf donkies, twee hingste en ‘n miniatuur perd wat reeds vantevore deur die draad gebreek het.

Chantelize, vergesel deur kleinsus Kelsy (9), was besig om aan die boonste deel van die heining te werk toe die hings haar aan die arm gebyt en haar in so ‘n mate in die lug opgeruk het dat sy in die doringdraad beland het. Sy weeg sowat 45 kg.

“Chantelize het probeer opstaan, maar haar hare het aan die doringdraad vasgesit. Intusssen het Kelsy vreeslik geskree en ons geroep,” vertel ma Annelize.

Die bytplek aan haar regter voorarm.

Sy en haar man Ben (die dogters se stiefpa) was sowat 300 m weg van waar die voorval gebeur het.

“Terwyl my arme kind die bloed probeer stop het, het sy vir Ben gesê: ‘Oom ek wil nie doodgaan nie, gaan ek doodgaan?’”, vertel Annelize.

Terwyl hulle die dogters probeer kalmeer het, het hulle ‘n handdoek om die wond gedraai en na die Midvaal Hospitaal in Drie Riviere gehaas.

Daar is die wond gestabiliseer en toegemaak en Chantelize het ook ‘n klem-in-die-kaak en hondsdolheid inspuiting ontvang. Hulle is egter na die Steve Bico Hospitaal verwys aangesien die gesin nie aan ‘n mediese fonds behoort nie.

By die Steve Bico Hospitaal is die vel onder narkose opgetrek oor die gapende wond en met steke geheg. ’n Week later is bevind dat die weefsel rondom die wond begin het om dood te gaan en dat sy ‘n veloorplanting sou moes kry.

“Hulle het gesê ek moet haar op 8 Januarie inbring vir opname. Intussen was ek bekommerd dit raak septies. Ek het Chantelize twee keer na Cormed se ongevalle-afdeling geneem waar sy antibiotika ontvang het,” vertel Annelize.

Op 8 Januarie het Annelize en Chantelize by die Steve Bico Hospitaal opgedaag, net om weggewys te word omdat daar nie beddens beskikbaar was nie.

Chantelize in die hospitaal. Sy moet Vrydag, 12 Januarie ‘n veloorplanting kry.

“Dr. De Beer in Vereeniging was so goed vir ons. Hy het haar gesien sonder om geld te vra. Hy het ons gehelp om ‘n afspraak by dr. Phiri by Mediclinic Vereeniging te kry vir die verloorplanting,” sê Annelize.

Intussen is die dooie weefsel om die bytplek verwyder en het Chantelize Vrydag ‘n oorplanting gekry.

Behalwe vir die kleiner bedrae van die onderskeie mediese onkostes, is ‘n bedrag van sowat R52 000 aan Mediclinic verskuldig en sal Vrydag se operasie sowat R40 000 beloop. Enige finansiële bydrae deur die gemeenskap sal waardeer word.

“Ons het nie vewag dat die jaar so sleg sal begin nie. As ‘n ma breek dit jou hart om jou kind in soveel pyn te sien,” sê Annelize.

Fokus met jou selfoonkamera op die QR kode om ‘n bydrae te maak.

Chantelize hou niks daarvan om in die hospitaal te wees nie. Sy sê ook dat sy steeds lief is vir perde, maar dat sy in die toekons net versigtiger sal wees.

“Haar hart was stukkend toe sy hoor die perd is uitgesit,” sê Annelize.

“Elkeen moet verantwoordelikheid vir hule dier neem en sorg dat hul op hul eie perseel bly,” meen Annelize.

Intussen lyk die kanse skraal dat Chantelize haar graad 10 skooljaar aan die HS Dr. Malan saam met haar maats sal kan begin. Indien enigiemand ‘n finansiële bydrae tot die mediese onkostes kan maak, sal dit hoog op prys gestel word.

* Die buurman het intussen van die donkies en die miniatuur perd ook ontslae geraak

Chantelize is lief vir diere en sê sy sal weer perdry in die toekoms.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button