Polisie soek ooggetuies van dié tragiese botsing
Enigiemand wat die ongeluk gesien gebeur het, kan sersant M. Phake by 066 569 1305 kontak.
VANDERBIJLPARK – Die Polisie is op soek na ooggetuies van ‘n ongeluk wat op 8 September 2023 die lewens van twee jongmense by die sogenaamde “Kruising van die Dood” geëis het.
Roné Groenewald (17) en haar 22-jarige vriend was die Vrydagaand van ‘n kerkbyeenkoms af op pad huis toe, toe hulle omstreeks 21:00 by die gevaarlike kruising tussen die R42 (Barragepad) en die R57 (Golden Highway) in ‘n botsing met ‘n ander voertuig betrokke was.
‘n Swart Geely en ‘n metaalkleurige Cherry Tiggo Pro 4 was in die ongeluk betrokke. Roné en haar vriend, wat in die Geely gery het, het op die toneel beswyk, maar die insittendes van die Cherry het oorleef.
Polisiewoordvoerder adjudant-offisier Sabelo Sigcu, sê dat verdere inligting van ooggetuies ingewag word om met die ondersoek te kan voortgaan.
Enigiemand wat die ongeluk gesien gebeur het, word versoek om sersant M. Phake by 066 569 1305 te kontak.


