Ysland vakansie vir pa en dogter
Dit het 10 jaar se spaar en beplanning geverg, maar die pa en dogter span het hul droom verwesenlik en saam na Ysland gereis.
SASOLBURG. – Vele mense het ‘n droomlysie van alles wat hulle wil doen. Min van die groot drome word ooit ‘n werklikheid.
Annél Willemse glo aan waar ‘n wil is, is ‘n weg. Tien jaar gelede het sy besluit sy wil die aurora borealis (noordelike ligte) self sien.

Sy het begin navorsing doen en spaar. Haar pa, Wimpie, het gehoor sy beplan om Ysland toe te gaan en het besluit om saam te gaan.
12 November 2023 het hul via Doha en Kopenhagen Ysland toe gevlieg. Die duo het in Reykjavuk tuisgegaan. Hulle het die eerste aand al op ‘n tradisionele walviskyk-boot gegaan om die aurora borealis te gaan soek.
Die geluk was aan hul kant. Wimpie sê hy het begin koud kry op die boonste dek en het onder gaan sit.
Skielik het hy ‘n stukkie wit lig gewaar wat al hoe groter geword het. “Toe het die hemel oopgemaak en al die verskillende kleurgolwe kon duidelik gesien word.”

Hulle het daagliks op voorafbespreekte toere gegaan om alles te besoek wat Annél van gelees het. ‘n Groot lekkerte was toe hul een oggend gaan sneeumobiel ry het by die Langjökull gletser.
Hier is hul van klere voorsien wat temperature van tot -40°C kan hanteer. Dik gepantser teen die snerpende koue het hul die rit na ‘n ondergrondse ysgrot onderneem.
Annél het dieper in die grot ingekruip, maar Wimpie sê hy het baie gou die vars lug buite gaan opsoek.
Nog hoogtepunte was hul besoek aan Ysland se Suidkus waar die Game of Thrones verfilm is en om die Swartsandstrand te besoek.

Op die strand mag jy nie jou rug op die see draai nie omdat “sneaker waves” jou kan oorval en intrek.
Dan was daar ook die vissersdorpie Vic, watervalle, nog ‘n gletser en die Golden Circle op die spyskaart. Hulle het alles beleef van warm water wat met ‘n boog uit die sneeu spuit tot by watervalle wat yskoud na benede tuimel.
Daar was selfs die kans om in ‘n natuurlike warmwaterbron te swem terwyl dit buite 5°C was. Beide Valies het hul verstom aan die tegnologie in Ysland, die skoonheid en netheid orals.
“Daar is nie misdaad nie, almal is vriendelik en vertrou mekaar,” vertel Wimpie wat nog steeds nie kan glo dat jy sommer self met ‘n kaart betaal vir jou kruideniersware sonder ‘n mens in sig nie.
Die dae was bitterkort, met die son wat eers na 10:00 in die oggende opgekom het en teen 16:00 weer gesak het.

Die enigste nadeel van Ysland is dat alles duur is. Geniet het hulle die vreemde wel geniet.
Annél se aftiklysie het klaar weer ‘n land bygekry. Volgende keer wil sy Alaska besoek en Wimpie? Hy reken hy sal saamgaan, want hy’t gehoor in Alaska kan hy visvang!
