Beskuldigde slaan glo ‘blank’ toe hy moor
Hy weet nie wat tydens die aanval gebeur het nie.
*Die storie het in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (12 Januarie 2024) verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.
BENONI. – Raymond Metz (20), die hoofbeskuldigde in die opspraakwekkende Leeuhof-moordverhoor en iemand wat geneig is om epileptiese aanvalle te kry, het getuig dat hy in ‘n toestand was en ‘n “blank” geslaan het toe hy die oorledene, Benjamin Lotz (52), die aand van 22 November 2021 met ‘n mes gesteek het.
Hy kan klaarblyklik ook nie veel van die aanval onthou nie.
Lotz het beswyk nadat hy deur Raymond en sy broers, Shane Metz (24) en Simon Anton “Babatjie” Metz (18), by die huis waar hy gewoon het aangeval is ná ‘n styery oor harde musiek vroeër die aand.

Die seuns se ma, Lindi Falch (44), wat ook die betrokke aand op die moordtoneel was, is ‘n medebeskuldigde in die saak en staan saam met haar kinders tereg op die moord.
Raymond, ‘n epilepsie-lyer, het reeds in sy pleitverduideliking toegegee dat hy vir Lotz herhaaldelik met ‘n klein messie gesteek het, maar sê dat hy nie kan onthou hoeveel keer nie, aangesien hy in ‘n toestand was en “blank” geslaan het.
Daar is ook getuig dat Raymond op die betrokke aand ‘n epileptiese aanval in die polisievangwa gekry het nadat hy en Estivan Delport, ‘n voormalige beskuldigde in die saak wat staatsgetuie gedraai het, in die voertuig toegesluit is.
Raymond het Maandag, 8 Januarie met ‘n donkerbril in die getuiebank ingeskuif toe die verhoor hervat is.

Hy het verlede jaar ‘n epileptiese aanval by die hof gekry kort nadat hy getuienis begin lewer het en die saak gevolglik uitgestel is.
Charles de Beer, Raymond se regsverteenwoordiger, het aan regter Carla van Veenendal verduidelik dat Raymond die donkerbril op aanbeveling van ‘n mediese praktisyn dra.
Die bril kan glo epileptiese aanvalle keer.
Van Veendendal het vir Raymond gesê dat hy asseblief die hoftolk of sy regsverteenwoordiger in kennis moet stel as hy nie lekker voel nie.

Die hofverrigtinge is ‘n paar keer tydens die saak tot stillstand geruk toe Raymond laat weet het dat hy nie lekker voel nie.
Die staatsaanklaer wou tydens kruisondervraging by Raymond weet waarom hy die ander gebeure van die aand kan onthou, soos toe hy en sy broers oor die draad gespring het, maar tydens dié kritieke oomblik (die aanval) ’n “blank” geslaan het en nou niks kan onthou nie.
Hy wou ook gehad het dat Raymond die proses waartydens hy “blank” geslaan het moet verduidelik, waarop Raymond vertel het van die gevoelens wat hy gekry het toe hy die bloed van sy broers gesien het.
Op die staatsaanklaer se vraag of Raymond “kwaad” geword het, het hy geantwoord: “Ek sou nie sê kwaad nie, maar ek het nie daarvan gehou toe hulle (my broers) daar in bloed gelê het nie.”

