Besorgde Valies help verbete om indringerplante uit Vaalrivier te lig
Inwoners van Vanderbijlpark word dringend gevra om ou tennisnette en/of ou swembadnette te skenk sodat werkers kan voortgaan om die indringerplante uit die water te skep
Natuur- en watersportliefhebbers het Woendag, 10 Januarie, met skok gesien dat die Vaalrivier in sekere gedeeltes waar dit deur Vereeniging en Vanderbijlpark vloei, met ‘n kombers van “waterslaai” en hiasinte bedek is. Dié plante is uitheemse indringer-spesies wat teen ‘n verbysterende spoed aangroei.
Lede van klubs aan die Vaalrivier, die gastehuisbedryf en oewerbewoners het sedert verlede week en die afgelope naweek hard daaraan gewerk om soveel van die plante as moontlik uit die water te skep, na die oewer te bring en te vernietig.
Die publiek se hulp is egter dringend noodsaaklik om die verdere uitbreiding van die waterplante te beperk of dit te help uitroei.
Mnr. Kobus Pienaar, ‘n oewerbewoner en sakeman van die Vaaldriehoek, sê hulle benodig dringend ou tennisnette en/of ou swembadnette om die inloop van die waterplante uit die Taaiboschspruit in die Vaalrivier te blok en te verwyder. Hy het met mev. Rosemary Anderson van Stonehaven-on-Vaal gereël dat sulke nette by haar by Stonehaven afgelaai kan word. “Dit is ‘n reuse-taak om die plante op te ruim,” sê Kobus.
Enigiemand wat ou nette of hooivurke kan skenk, is welkom om dit by Stonehaven te gaan aflewer.
Nog berigte oor die huidige krisis met die waterplante volg later.



