Die klok het gelui, die skooljaar het begin
17 Januarie. Die skole het begin. Hier is van Laerskool Kollegepark, Vaalpark Primêr en Laerskool Emfulenipark se graad 1's. Meer foto's en 'n kompetisie Vrydag in Vaalweekblad!
VANDERBIJLPARK & VAALPARK . – Dit was omtrent ‘n gedruis en gewoel by al die laerskole. Alhoewel, van die skole alreeds dae gehad het waar die graad 1’s hul juffrouens kon ontmoet en baie die skool ken van hul graad R dae af, was vandag nog steeds ‘n groot dag.

By Laerskool Kollegepark het die hoofleierspan die graad 1’s en hul ouers by die hek welkom geheet.
Elke nuweling het ʼn kans gehad om met die Oops-a-Daisy plakkaat vir die kamera te glimlag, voordat hul ʼn klok gelui het om aan te kondig hulle is nou amptelik in graad 1.

By Vaalpark Primêr het die jong maats opgewonde in die saal saam met hul ouers gewag vir die waarnemende hoof, Mnr Jannie Erasmus, om hul toe te spreek.
Van die jongelinge was nog buite saam met hul nuwe juffrou toe die skoolklok skielik lui. Die spannetjie het soos een man ore toegedruk, duidelik nie gewoond aan die vreeslike lawaai nie.

Trane was daar nie eintlik nie, wel nie by die kinders nie. ʼn Hele paar ouers se oë het kwaai geblink toe hul die kinders by die klaskamers moes groet.
Teen die tyd wat Vaalweekblad by Laerskool Emfulenipark gedraai het, was die die graad 1’s al rustig in hul klasse en hard aan die werk, ehh inkleur.

Daar was groot glimlagte oral te sien en ʼn hele paar het reeds goue sterretjies verdien.
Hierdie week se Vaalweekblad, beskikbaar van 19 Januarie, sal meer foto’s van die verskillende skole inhê.

Kyk ook uit vir die groot graad 1 kompetisie wat ons gaan loods eksklusief in die gedrukte koerant.
