Barry is ‘n man van erns
Onlangs op 'n foto ekspedisie het ek 'n ernstige jongman ontmoet wat 'n ogie oor alles gehou het. Lees verder...
VANDERBIJLPARK. – Die graad 1’s tou by die kleinhekkie. Daar is ‘n hele verwelkomingskomitee van hoofleiers.
Tussen ouers en leerlinge skarrel die onderwyseresse om hul nuwe leerders bymekaar te hou. Selfs die hoof, mnr. Coenie Herbst kom skud blad.
‘n Klein seuntjie met ‘n bril vang my oog. Hy staan eers eenkant. Hou die hele gedoente met ‘n ongewone erns dop.
Ek kom agter dat hy stelselmatig nader beweeg. “Gaan al die foto’s wat jy neem in die koerant kom?” vra hy.
Ek kyk af. Ernstige blik agter die brilraam. “Nou nie alles nie, daar is nie plek vir al die foto’s nie,” antwoord ek.
Lyk vir my hy is vir eers tevrede en hy gaan kyk weer na waar die graad 1’s een-een afgeneem word.
‘n Rukkie later is hy terug. “Het jy nou al baie foto’s vir die koerant geneem?” wil hy weet. Ernstig, die man.
Ek vra uit. Hy vertel. Sy naam is Barry van der Wat. “Net een t,” beduie hy. Trek dan my spelvermoë in twyfel.
“Laat ek sien.” Ek weet nie of hy my skrif sal kan ontsyfer nie, maar hou die boekie na hom uit. Hy sug. Spel dan rustig sy naam vir my net om seker te maak ek het dit reg. “
Kan ek jou maar afneem?” wil ek weet. Hy reken dis ‘n briljante idee en gaan staan vir die foto.
Barry, vind ek uit, is in graad 3. Hy word 10 die jaar en is allergies vir penisillien. Hy oorweeg dit om eendag dalk ‘n fotograaf te word. Lyk vir hom interessant.
Wat maak hy nou eintlik tussen die graad 1’s? “Ek hou maar ‘n ogie oor alles,” verklaar hy.
Dan lui die klok. “Ek moet nou gaan” sê hy en laat spaander. Eers toe ek die foto aflaai besef ek aan wie het die jongeling my laat dink.
Hy lyk nes die befaamde akteur en regisseur Regardt van den Bergh. Ek dink daar is hoop vir die Suid-Afrikaanse flimbedryf.
