Koeksisters bring oud-hoofmeisie nader aan haar veearts-droom
Klarissa van Zijl bak en verkoop heerlike soetgoed om haar studieskuld af te betaal
SASOLBURG. – Koeksisters is nie net ‘n heerlike Suid-Afrikaanse kultuurhappie nie. Oor dekades heen het Afrikanervroue al miljoene koeksisters gebak om geld vir kerke, skole, kinder- en ouetehuise in te samel.
‘n Vaaldriehoekse student, Klarissa van Zijl, het nou van vooraf dié nederige, tradisionele lekkerny se waarde ontdek om broodnodige fondse vir haar verdere studie in te samel. Sy het sedert haar vroegste jare ‘n droom gekoester om eendag veearts te word en is tans ‘n derdejaar Veeartseny-student aan die Universiteit van Pretoria. Ongelukkig het haar befondsing vir 2023 nie ten volle betaal nie en daar is nou net een uitweg oor: Sy moet sélf die nodige geld insamel om haar studieskuld te delg.
“Ek is ‘n hardwerkende student en glo dat geld nie in die pad van my droom gaan staan nie. God het die pad vir my oopgemaak om in te kom vir Veeartsenykunde en Hy sal ‘n pad oopmaak vir befondsing ook,” sê sy.
Haar Ouma Ria, wat al jare lank vlytig koeksisters bak, het Klarissa touwys gemaak om self te begin bak en te verkoop, en nou word daar behoorlik gewerskaf in ouma se kombuis in Sasolburg.
“Ek kom al baie mooi reg met die tegniek en het dit omtrent heeltemal onder die knie,” sê Klarissa trots. Sy beskryf die perfekte koeksister as een met ‘n bros buitekant, en as jy in hom inbyt moet daar ‘n karamelontploffing in jou mond wees.
Aanvanklik was dit net familie en vriende wat gekoop het, maar nou kry Klarissa al bestellings van oral – selfs uit Pretoria. Sy verkoop groot koeksisters teen R55 vir 500g, en die klein cocktail-weergawe teen R40 vir 300g.
Klarissa was in 2019 in die nuus nadat die loopbrug by Hoërskool Driehoek neergestort het. As daardie jaar se hoofdogter het sy ‘n groot rol gespeel om van die getraumatiseerde leerders na die skoolsaal te neem, waar sy hulle met trooswoorde en gebede rustig gehou het.
Na skool het sy eers Landbou-Veekunde aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein studeer, en is toe aanvaar vir Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria se fakulteit in Onderstepoort. Haar nuwe studiejaar begin op 19 Februarie, wanneer sy na die kampuskoshuis moet terugkeer. Sy is vol moed dat sy genoeg geld met haar koeksisters gaan insamel om haar studies te kan voortsit. Sy het nog vier studiejare oor en moet daarna haar verpligte gemeenskapsjaar doen.
Klarissa bedank almal wat haar tot dusver ondersteun het. Mense wat van haar koeksisters wil beproef, kan haar by 079 306 8442, of haar ma by 082 847 3818 kontak.




