Beroerte eis bekende in Vaal se voertuigkringe
Jerry word veral vir sy liefde vir mense onthou
SASOLBURG. – ‘n Breinstamberoerte het vroeër die maand die lewe van mnr. Jerry van Niekerk (77), ‘n jarelange bekende in Vaaldriehoekse voertuigverkope, geëis. Volgens sy weduwee, mev. Wyona van Niekerk, het hy op 5 Januarie in die Alberton Netcare-hospitaal beswyk.
Mnr. Van Niekerk was aanvanklik aan Duttons Volkswagen verbonde voordat hy hoofbestuurder van Vaal Toyota Sasolburg en later hoofbestuurder van Vaal Toyota Vanderbijlpark geword het. Na sy aftrede het hy by Durasales Equipment in Boksburg aangesluit, waar hy hoofsaaklik by verkope van grondverskuiwingsmasjinerie betrokke was. Hy en sy vrou het egter steeds in Vaalpark gewoon.
Mnr. Van Niekerk is op 13 Mei 1946 in Umthatha, Transkei, gebore en het as kind saam met sy gesin na die Vaaldriehoek verhuis, waar hy aan die Laerskool Totius en Hoërskool Vanderbijlpark skoolgegaan het. Na skool is hy Lugmag toe en het as motorwerktuigkundige gekwalifiseer voordat hy na die Vaaldriehoek teruggekeer het. Hy het sowat 50 jaar in Sasolburg en Vaalpark gewoon.
“Ons sal Jerry onthou as ‘n baie sosiale, opgewekte persoon wat baie lief was vir mense. Hy het altyd geglimlag en was op die ouderdom van 77 nog baie energiek. Hy het gehou van gholfspeel wanneer hy die kans gekry het, maar was veral lief vir dans en lekker Country-musiek. Ons was 12 jaar maats en ses jaar getroud,” sê Wyona.
Mnr. Van Niekerk word buiten sy vrou oorleef deur sy drie dogters en een aangetroude dogter, sewe kleinkinders en een agterkleinkind. Sy lewe is Donderdag, 18 Januarie, deur sy familie en vriende met ‘n gedenkdiens by Kompas-gemeente in Vanderbijlpark gevier.


