Local newsNewsNews

‘Ek het ‘n tweede kans gekry’

Drie maande gelede het Vanderbijl met skok asem opgehou toe twee matriekseuns in 'n ongeluk was, Vaalweekblad het by Gibbs 'n draai gaan maak.

VANDERBIJLPARK. – Vrydag, 20 Oktober 2023. Die dag toe twee matriekseuns met hul voertuig ‘n boom in Rossini-boulevard getref het.

Mense het na die ongelukstoneel gestroom. Benoud gekyk hoe daar gespook word om die jong bestuurder uit die wrak te kry.

Die passasier was al lankal gehospitaliseer, voordat Gerhard Gerber (Gibbs) gestabiliseer is en per helikopter na die trauma eenheid in Alberton geneem is.

Die ongelukstoneel in Oktober 2023

Die ergste is gevrees, maar daar is vir wonderwerke gebid. Armand van Gent is dieselfde naweek ontslaan, maar Gibbs het sy bobeen gebreek en het swelling op sy brein gehad.

Drie maande later en die jonge Gibbs stap gemaklik en met ‘n breë glimlag in. Sy pa, Gibbs (sr.) straal van dankbaarheid. “Dit was ‘n vreeslike tyd,” onthou Gibbs (sr.).

“Ek en my vrou, Johanna was daardie dag op pad na Naboomspruit om ‘n opgestopte krokodil te gaan haal wat ek geskiet het. Ons was kilometers van ons bestemming toe die boodskappe oor die ongeluk begin instroom.

“Ons het die krokodil in die vragmotor gelaai, ons naweekplanne laat vaar en dadelik terug gery.” Teen die tyd wat hul in Alberton aangekom het, was jong Gibbs reeds in die intensiewe eenheid opgeneem.

“Hulle het ons gelukkig toegelaat om hom te sien,” vertel Gibbs. Hy lag wanneer hy die hospitaal se hekwagte se reaksie oor die krokodil in die vragmotor onthou, maar kort-kort skiet die groot man se oë vol trane.

Gibbs jr. was eers onder sedasie gehou, maar na vier dae het die swelsel op sy brein aansienlik gesak en kon die operasie op sy gebreekte femur uitgevoer word.

Gibbs jr het darem alweer vir Gibbs sr op die gholfbaan kon aanvat. Foto: verskaf

Daar is ‘n lang herstelpad voorspel, maar hy het almal verras. “Hy het fisioterapie gekry, en het binne twee weke sonder die krukke geloop,” vertel sy pa trots.

Gibbs jr. sê dit gaan goed met hom. “Ek het ‘n tweede kans gekry,” glimlag hy. Die been pyn party dae, maar hy laat hom nie stuit nie.

Hy het juis saam met sy pa agter ‘n bees aangedraf die oggend voor die onderhoud.

Alhoewel hy nog nie weer krieket probeer het nie, het hy sy pa darem al op die gholfbaan aangevat.

Die enigste probleem is dat sy korttermyngeheue hom in die steek laat. “Partykeer is dit goed,” lag hy, “veral as my pa my vra om die gras te sny.”

Gibbs sr het Caley van der Bank namens sy seun na die matriekafskeid vergesel. Foto: Marinda Maritz

Met die ongeluk wat dae voor die matriekafskeid plaasgevind het, het Gibbs sr. ingespring en namens sy seun vir Caley van der Bank afskeid toe vergesel.

“Sy het self vir my die rooi das gebring wat Gibbs sou dra,” lag hy lekker. Dan raak albei ernstig. “Die gemeenskap het ons gedra deur hierdie tyd. Almal het gebid.

“Ek het finansiële hulp van vriende en familie gekry. Elke dag was daar hordes boodskappe en oproepe. Dankie vir elkeen en vir my vrou wat my rots was deur dit alles,” se Gibbs sr.

Jong Gibbs beaam sy pa se woorde en voeg by: “Ek is dankbaar ek leef en dat my vriend, Armand leef en ok is.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button