Danika pak weer Graad 1 aan na uitmergelende jaar
Danika is baie opgewonde om na 'n jaar van ingrypende mediese behandeling weer terug te wees op die skoolbanke!
VEREENIGING. – Toe klein Danika van Tonder verlede week haar sitplek as ‘n Graad-eentjie by die Laerskool Risiville ingeneem het, was dit die voltooiing van ‘n kringloop waarna sy met groot blydskap uitgesien het. Sy het verlede jaar pas haar Graad een-jaar by die skool begin, toe sy met Stadium 4-breinkanker (medulloblastoma) gediagnoseer is en nie verder kon skoolgaan nie.
‘n Gewas so groot soos ‘n appel moes uit haar brein verwyder word en maande van kommer, pyn, operasies, intensiewe bestraling en chemoterapie het gevolg. In November verlede jaar het sy en haar ouers uiteindelik die goeie nuus ontvang dat haar kanker in remissie is. Dit was egter nie die einde van haar beproewing nie. In Desember is sy terug hospitaal toe vir ‘n opvolgoperasie en verdere waarneming nadat die pypie wat vog van haar brein af moes laat dreineer, nie reg gefunksioneer het nie.
Hoewel dit nou onder omstandighede goed gaan met Danika, het sy nie skotvry van haar kankerstryd afgekom nie. Sy moes in die maande na haar operasies van vooraf leer praat, eet en loop. Haar een ogie trek steeds effens skeef weens skade aan ‘n kraniale senuwee en sy is nog effens onvas op haar skraal beentjies, maar sy word darem sterker, sê haar pa, mnr. André van Tonder.
“Danika is baie opgewonde om te kan teruggaan skool toe en wou al die vorige aand haar skoolklere aantrek. Sy aanvaar dat sy haar Graad 1-jaar moet herhaal. Sy sukkel nog om by te bly en dingetjies te verstaan, so ons weet dit gaan maar ‘n uitdaging op sy eie wees.”
Met Danika se twee boeties wat nou ook skool toe gaan, het Pa André en Ma Christine vanjaar drie kleingoed op skool. Hulle besef dat daar nog vele praktiese en geldelike uitdagings op hulle as ouers wag omdat Danika steeds gereeld vir opvolgondersoeke stad toe sal moet gaan.
Weens die eise wat Danika se behandeling en haar gereelde vervoer na hospitale aan hom gestel het, het André se loodgietersonderneming die afgelope jaar vir lang tye stilgestaan. Hy kon in 2023 net 57 dae werk. “Dit was bitter rof maar hopelik kan dinge nou normaliseer sodat ek my volle aandag aan my werk kan gee,” sê hy.
Buiten loodgieterswerk is hy ook betrokke by die installering van sonkrag-geysers. Mense wat van sy dienste gebruik wil maak en die gesin sodoende wil ondersteun, kan hom vir ‘n kwotasie kontak by 079 525 0169.




Mense wat van André van Tonder se loodgietersdienste gebruik wil maak en Danika en haar gesin sodoende wil ondersteun, kan hom vir ‘n kwotasie kontak by 079 525 0169.
