Ek sê maar net…
RUBRIEK. - Soms kan mens terug in tyd toer deur 'n boek, of dan 'n opstelskrif, oop te maak. Lees meer...
RUBRIEK. – In die week het ek ‘n onderhoud met ‘n jong dokter. Die man is klaar met al sy internskap en diensjare en kan uiteindelik net dokter wees.
Die onderhoud verloop goed tot ek vra waar hy op skool was? “Unitaspark,” seg hy, “my pa is die skoolhoof.”
Ek kyk na sy van, kyk na hom en skielik is dit weer 1988. “Jou pa se naam Gerald?” maak ek seker. Einste.
Ek glimlag van oor tot oor. “Jou pa was hoofseun toe ek in standerd 9 was”.
Ek vergeet daar en dan van die onderhoud en brei uit oor skooltoneel en vakansietoere. Alles dinge wat jare voor die jonge dokter se tyd gebeur het.
Dieselfde aand gaan plak ek my op die grond voor my kas in die kamer. Oor die opstaan sal ek liewer ‘n sluier trek.
Ek weet daar in die heel onderste rak, agter in die hoek lê ‘n paar van my ou skoolskrifte.
Ek grawe dit uit. Stelwerk st. 7, creative writing st. 10 en stelwerk st. 10 staan op die voorblaaie. Dit was my kos om opstelle te skryf.
Dis die laaste stelwerk boek wat die foto oplewer. Die einste hoofseun van 1988 op ‘n skooltoer. Gemaklik met plakkies op ‘n stoeptrappie.
Die opdrag was ‘n beskrywende paragraaf van ‘n foto. Ek het die volgende neergepen onder die opskrif, Vrede met die wêreld:
“Vuil mure, ‘n stukkende venster en ‘n gehawende deur begroet jou uit ‘n ashoopagtige omgewing. Laasgenoemde waag sy lewe aan slegs ‘n skarnier en ‘n half, want hy hang windskeef.
Jy wonder waar jy jou bevind, miskien in Hillbrow? Maar, nee, waar in Hillbrow sal jy stompe langs ‘n houtaangedrewe warmwaterstelsel sien? Of, ‘n halwe drom met ‘n maand se waswater daarin?
Jy gee moed op. Dan, tot jou groot verbasing gewaar jy hom op die trap – in skrille kontras met sy omgewing. Of… dalk nie, want sy spoortrappers en stampers pas perfek by sy omgewing.
Vuil, verwaarloos soos selfs die leë kamer agter hom kan getuig. Maar, vanwaar die glimlag en geel hemp? Tevredenheid straal uit sy gesig, sy hele houding.
Hy weet self nie hoekom nie, want water is daar maar skaars en papiere lê soos confetti om hom gestrooi.
Maar, wie gee nou om? Beslis nie hy, die eertydse hoofseun van Hoërskool Vanderbijlpark nie!”
Het darem ‘n “baie goed” as nota van die juffrou daarmee verdien. En ek hoop die geagte skoolhoof vergewe my, die deel van hierdie storie.
Maar, dis dan waar alles begin het. By skoolopstelle. En nee, ek het nie enige wiskunde, wetenskap of rekeningkunde boeke gehou nie. Daardie verderflike dinge is vir ewig uit my brein verban.
