Local newsNewsNews

Stoere GPF-lid dood gevind

Die polisie het verlede week gesê die motief vir die moord is in hierdie stadium nog onbekend.

*Die storie het in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (19 Januarie 2024) verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir die jongste nuus.

MEYERTON. – Daar hang ‘n raaisel rondom die moord op ‘n jong misdaadbestryder van Midvaal en aktiewe lid van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), wie se lyk verlede week met skietwonde gevind is.

Die polisie van Vereeniging ondersoek ‘n saak van moord nadat die lyk van die 19-jarige Lazaro de Bruyn Donderdag, 11 Januarie naby Goeiehoek buite Vereeniging gevind is.

Vaalweekblad verstaan Lazaro het Woensdag, 10 Januarie  vermis geraak.

Sy lyk is die volgende dag in die omgewing van Goeiehoek gevind.

Kapt. Tebogo Lephoto het bevestig dat Lazaro ‘n skietwond gehad het.

“Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie en die motief vir die moord is tans onbekend. Die saak word ondersoek,” het Lephoto by navraag laat weet.

Mense met inligting wat tot die inhegtenisname van verdagte/ verdagtes kan lei kan die polisie se CrimeStop-nommer by 08600 10111 skakel of die MySAPS-toepassing gebruik om inligting vertroulik deur te gee.

Lazaro was deel van die plaaslike GPF. Foto: Facebook/Lazaro De Bruyn

Vaalweekblad verstaan Lazaro was ‘n stoere misdaadbstryder en aktief betrokke by die plaaslike GPF.

Hy was die enigste seun van Karien de Bruyn wat by die Vryheidsfront Plus (VF Plus) se kantoor in Meyerton werk.

Lazaro se ouma, Roelie de Bruyn het navrae na Kobus Hoffman, ‘n VF Plus-wetgewerslid wat in die provinsiale veiligheidskomitee dien, verwys.

Hoffman, wat besig is om feite rondom die voorval in te samel, het bevestig dat die saak ondersoek word.

Volgens Hoffman is gerugte dat Lazaro op patrollie was of by GPF-aktiwiteite betrokke was op die aand wat hy vermis geraak het, onwaar.

Die ondersoek duur voort.

Lazaro is op sosiale media beskryf as “’n goeie en ‘n mooi seun”.

Liezl Jardin, ‘n vriendin, het in ‘n huldeblyk op Facebook geskryf: “Jy is en was my beste vriend. My hart is in stukke. “Ek lê hier en dink aan hoe ons altyd saam gelag het en al die games tot laat in die aand gespeel het. Ek gaan jou so baie mis. Rus sag.”

‘n Ophemelingsdiens vir Lazaro is verlede week gehou.

Lazaro de Bruyn wat vermoor is. Foto: Facebook/Lazaro De Bruyn

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button