Van nader by dokter Edward en juffrou Madelein Blignault
Van Transvalia hoofseun tot algemene praktisyn, Edward Blignault is weer tuis in Vanderbijl.
VANDERBIJLPARK. – Tien jaar gelede was hy Transvalia se hoofseun, vandag is hy dokter Blignault.
In sy spreekkamer staan daar ‘n bottel met gekleurde suigstokkies. Dis vir die kinders. “Was my vrou se idee,” lag hy.
Dis te verstane dat sy vrou aan die kinders sou dink. Madelein is een van Vaalpark Primêr se graad een onderwyseresse.

Die egpaar vier in Maart hul eerste huweliksherdenking. “Dit was ‘n romanse so reg uit die moderne tyd,” lag hy. Hy het Madelein op Facebook raakgesien onder een van sy vriende se vriendelys.
“Ons vul mekaar goed aan en is albei gek oor die natuur. Ons gunstelingplek is die wildtuin,” beduie hy.
Madelein is die fotograaf en sy het ook nou ‘n belangstelling in voëlkyk by hom aangewakker.
Edward is dankbaar dat hy uiteindelik praktiseer. Dit was ‘n lang nege jaar van baie swotwerk, opgevolg deur drie jaar se verpligte gemeenskapsdiens.
“Ek was gelukkig om my twee jaar internskap by Sebokeng Hospitaal te kon doen. Dis ten minste naby die huis en verlede jaar het ek my diensjaar by die klinieke in die omgewing klaargemaak.”
Hy beskryf die laaste drie jaar as baie harde werk en lang ure. “Ek het soms tot 50 pasiënte ‘n dag gesien. Dit was moeilik, want ek hou daarvan om ‘n verhouding met mense te bou.
“Hul vertroue te wen. Ek wil nie net weet of my pasiënt se bloeddruk normaal is nie, ek wil weet hoe dit met hul hond gaan en of die kleinkinders al kom kuier het,” beduie hy.
Huis was nog altyd vir hom die Vaaldriehoek. Hy het in Vanderbijlpark grootgeword, maar was in Laerskool Unitaspark in Vereeniging waar sy pa, Gerald die skoolhoof is.
Na sy Transvaliajare het hy eers die Vaaldriehoek verlaat om medies aan die Universiteit van Pretoria te studeer.
Alhoewel hy kleintyd gedroom het om ‘n ingenieur te word, het hy op hoërskool besluit om medies te swot.
“Ek wil nie spesialiseer nie. Dis my droom om as algemene praktisyn daar te wees vir my gemeenskap en my pasiënte. Soos in die ou dae,” glimlag hy rustig.
Wanneer hy nie doenig is by die praktyk in dieselfde gebou as MooiVaal Media nie, geniet hy dit om tyd op die skietbaan deur te bring en ja, hy het weer begin gholf speel.
By die huis hou hul twee katte Katja en Kira die Blignaults goed besig. Dis duidelik waar die dokter se hart lê, want op sy tafel pryk nie net’n troufoto van hom en Madelein nie, maar ook die fraaie katte, maak nie saak hoe stout hul kan raak nie.