Local newsNewsNews

CJ (8) lewenslustig na opehartoperasie

Ontmoet CJ van der Merwe (8) die woelwater laat hom nie deur opehartoperasies onderkry nie. Lees meer...

VANDERBIJLPARK. – Hy is ‘n woelwater wat graag saam met sy pa gholf speel. Die dat dit vir CJ van der Merwe (8) moeilik is om hom tans stil te gedra.

Die kleinman het in Desember ‘n opehartoperasie ondergaan. Hy was maar drie weke oud toe sy hart die eerste keer geopereer is.

Op daardie stadium het die dokters sy hartklep probeer herstel en gehoop dat dit sou hou totdat hy volwasse is.

CJ kort na sy operasie. Foto verskaf

CJ het egter so vinnig gegroei dat die dokters sy hartklep met ‘n meganiese klep op 7 Desember moes vervang.

CJ was 10 dae oud toe sy een long platgeval het omdat hy respiratoriese sinsitiale virus (RSV) in die hospitaal opgedoen het na sy geboorte. Terselfdertyd het die spesialis agtergekom daar is ‘n geruis op sy hart.

Dis die amptelike weergawe, maar CJ het sy eie teorie. “Die dokter het met my geboorte nie my ma se maag ver genoeg oopgesny nie.

“Toe is die gat te klein. My hart het seergekry toe die dokter my uit my ma se maag ‘yank’,” reken hy.

Sy oë flits ondeund en van stilsit is nie sprake nie. Hy herstel goed na die hartoperasie en reken net die metaalklep wat mens soms kan hoor klop, hou hom uit die slaap uit.

Verder is hy gelukkig, want hy mag nog nie skool toe gaan nie. “Ek hou nie van skool nie. Te veel reëls,” sug hy.

CJ sal die res van sy lewe op Warfarin, ‘n bloedverdunner moet wees. Hy moes ook sy dieet aanpas en is vir eers sy geliefde broccoli kwyt.

Sy ouers, JC en Lee-Ane is dankbaar dat die operasie goed afgeloop het. “CJ word maklik siek en sukkel met sy longe. Maar, die spesialiste was ongelooflik. Die narkotiseur het kort-kort vir ons ‘n boodskap vanuit die teater gestuur om te sê hoe dit gaan.”

Dat CJ ‘n yster is, was duidelik toe hy slegs 10 minute na sy operasie op ‘n ventilator was. “Ons was verras toe ons by die intensiewe sorgeenheid ingaan en daar het hy net suurstofpypies op,” glimlag Lee-Ane.

Ongelukkig het hy weer ‘n kiem in die long opgetel en moes hy twee weke langer in die hospitaal bly.

Uitmergelend vir die knapie wat hou van beweeg, maar hy het darem ‘n uitskopstoel gekry sodat hy na buite vir die verkeer kon kyk.

CJ se grootste nagmerrie is dat sy bloed elke twee weke getrek moet word om die INR te bepaal. “Hy was nooit voorheen bang vir naalde nie, maar in die hospitaal het sy aartjies platgeval. Nou wil hy niks van die bloed trek weet nie,” verduidelik sy ma.

Die dokters beveel aan dat hulle ‘n masjien aankoop wat die INR meet sonder om bloed te trek. Die masjien beloop enige iets tussen R10 000 en R70 000.

“Ons wag nog om te hoor presies watter model die spesialis aanbeveel,” sê LeeAne.

Alhoewel hul ‘n goeie medies het, is daar heelwat bybetalings uitstaande. Die egpaar beoog om eersdaags ‘n fondsinsamelingsprojek te loods.

Indien persone of ‘n besigheid intussen kan help met ‘n donasie, kontak vir Lee-Ane by 078 175 4399.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button