Local newsNewsNews

‘Ek het haar 2 keer geskiet’ bieg Edgar

Hy sing nou 'n ander deuntjie.

*Die storie het in die gedrukte weegawe van Vaalweekblad (19 Januarie) verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir die jongste nuus.

VEREENIGING. – ‘n Man wat op die kleinhoewe van die vermoorde Charlotte Fenn (67) loseer het en nou vir die moord op haar teregstaan, het in die hof erken dat hy die oorledene twee keer met haar eie pistool geskiet het.

Quinton Edgar (52), wat voorheen skuld op die moord ontken het, sing nou ‘n ander deuntjie as vantevore.

Edgar en sy saamleefmaat, Lindsay Kirton (31), huur sedert Desember 2022 ‘n woonstel op die oorledene se kleinhoewe.

Volgens Edgar het hy Fenn om die bos gelei om geld uit haar te kry.

Hy sou vir haar ‘n sleepwa bestel wat hy kamtig op die internet gesien het en waarin sy belang gestel het.

Fenn het ‘n deposito van R4 000 vir die sleepwa aan Edgar oorbetaal en later ‘n bykomende bedrag van R5 000.

Edgar erken dat die sleepwa nooit regtig bestaan het nie. Hy het vir die oorledene gelieg.

Quinton Edgar in die rondgaande hooggeregshof by Palm Ridge. Foto: Christiaan Cloete

Edgar sê hy het die geld gebruik om kos en brandstof te koop.

Toe Edgar teen 2 Februarie 2023 nog nie die sleepwa by Fenn afgelewer het nie, het Fenn agterdogtig begin raak.

Edgar het toe alarms op sy foon gestel wat soos ‘n luitone (ringtones) klink en gemaak of die kliënt by wie hy kamtig die sleepwa sou koop, hom bel om die sleepwa af te lewer.

Hy het ook gery na ‘n plek langs die R59-snelweg waar die kliënt kamtig die sleepwa sou aflewer, maar dit was alles ‘n liegstorie.

Die hof het verlede week gehoor hoe die ooreldene, Charlotte Fenn (67) deur Quinton Edgar om die bos gelei is. Foto: Christiaan Cloete

Toe die sleepwa nie afgelewer word nie, het Fenn aan Edgar gesê sy kan aanvoel dat hy vir haar lieg.

Sy het hom gewaarsku dat indien die sleepwa nie binne ‘n uur afgelewer word nie, sy na die polisie sou gaan.

Ek kon nie toelaat dat sy polisie toe gaan nie, aangesien ek ‘n uitstaande lasbrief in Limpopo het,” het Edgar getuig.

Volgens hom was hy en die oorledene ten tyde van die onderonsie in haar Kia-bakkie.

Sy was op die bestuurdersitplek en hy op die passasiersitplek.

Die oorledene het ‘n handsak op haar skoot gehad. Ek het die fout gemaak om vir die handsak te kyk, waarna sy geskree het: ‘en nou wil jy my nog beroof ook!’”

Volgens Edgar het sy haar handwapen uit die handsak gegryp en dit op hom gerig, waarna hy die vuurwapen aan die loop uit haar hande gegryp en op haar gerig het.

Dit is toe wat ‘n skoot afgegaan het en sy geskiet is.

Nadat Fenn geval het, het sy weer orent gekom en aan Edgar gesê: “Nou is jy in groot moeilikheid!”

Hy het glo paniekerig geraak en haar ‘n tweede keer geskiet -hierdie keer in die kop.

Kirton was volgens Edgar nie by hom toe die skote geklap het nie, aangesien sy ‘n sleutel gaan haal het.

Lindsay Kirton het glo ‘n sleutel gaan haal toe Quinton Edgar vir Charlotte Fenn geskiet het en was nie by nie. Sy het wel saamgery toe Edgar die oorledene se bakkie naby Sasolburg aan die brand gesteek het. Foto: Christiaan Cloete

Hy het ook getuig dat hy Fenn se lewelose liggaam langs die treinspoor by Redan gaan stort het.

Later het Edgar en Kirton met twee voertuie na Sasolburg gery, waar Edgar Fenn se bakkie langs ‘n grondpad aan die brand gesteek het en hulle saam in Quinton se Opel Kadet na die kleinhoewe teruggekeer het.

Quinton het later Fenn se vuurwapen met ‘n skoonmaakproduk genaamd “Windowlene” afgeveë (om vingerafdrukke te verwyder) en dit by die venster uitgegooi.

Hy het in die hof aangebied om vir die polisie te gaan wys waar hy die vuurwapen gegooi het.

Grant du Toit, die oorledene se seun, is verlede week van die moord op sy ma vrygespreek. Lees die vorige berig hier.

Grant du Toit. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button