Groot biker met sagte hart benodig hulp
Hy help altyd ander, maar nou het groot Wayne self hulp nodig. Lees meer...
MEYERTON. – Hy is in die Vaaldriehoek bekend as die een wat altyd bereid is om te help. Wayne Lendrum gaan uit sy pad om daar te wees vir ander.
Hy is op sy gelukkigste as hy die pad kan vat op sy blou driewiel motorfiets met sy verloofde, Chantall Wolfaardt, agter op.
Sy been is in 2017 geamputeer, maar dit het hom nog nooit ondergekry nie. Tot nou toe. Hy glimlag steeds breed en bly positief, maar daar is fout.
Wayne se stompie het die afgelope maande gekrimp met die gevolg dat die spesiale kous wat oor die stompie getrek word om die prostetiese been in plek te hou, nou heeltemal te groot is. So ook die been se ‘socket.’
Om dit te vervang gaan etlike duisende rand beloop. Wayne moet noodwendig baie tyd op krukke of in sy rolstoel deurbring en motorfietsry is byna onmoontlik sonder sy prostetiese been.
“Ek tel my tree, want dit is soos om met ‘n te groot skoen te probeer loop, die been skaaf my stompie stukkend en dit het nie tyd om te herstel nie,” verduidelik hy.
Hy het onlangs by ‘n mediese fonds aangesluit, maar is op ‘n 18 maande wagtydperk voordat hy enige iets kan eis.
“Die pyn raak nou te veel. Ek begin te bang word om te loop, want dit is so seer,” dan skud hy sy kop, hy haat dit om geld te vra.
“Daar is ‘n spesialis wat my teen kosprys kan help, maar selfs dan praat ons van R20 000. Ek raak onfiks man, en hoe moet ek nou ander help as ek myself nie eers kan help nie?”
Enige besigheid of individu wat vir Wayne kan help, kan hom by 074 111 2688 kontak.