Local newsNewsNews

Verjaardagdroom – ‘n Kliniek vir Vaalpets

Vaalpets se Danielle het oor die jare al baie honde gered, nou werk sy aan haar volgende droom vir Vaalpets. Lees meer...

VANDERBIJLPARK. – Danielle van Rooyen is bekend as een van die grootste diereliefhebbers in die Vaaldriehoek. Veral honde lê haar na aan die hart.

Sedert 2011 het sy al duisende honde gered, gesteriliseer en nuwe huise voor gevind.

Dit het alles begin toe sy een middag verby seuntjies by ‘n verkeerslig gery het. Hulle het ’n klomp klein hondjies by hulle gehad.

Die hondjies en seuntjies was duidelik honger. Danielle het gestop. Die kinders was eers bang vir haar, maar nadat sy verduidelik het dat sy net wil help en nie hul hondjies gaan vat nie, is hul saam met haar winkel toe waar sy vir die kinders en hondjies kos gekoop het.

Sy het aangebied om hul by hul huis in Bophelong te gaan aflaai. Daar het sy die nood gesien en daar het sy besluit om ‘n verskil te maak.

Danielle se man is in 2010 oorlede en vroeg in 2011 het sy dit haar missie gemaak om honde te red en te steriliseer.

Vir jare het sy dit uit haar eie sak gedoen. Selfs nuwe huise vir hulle gekry, alles op haar eie onkoste. Stelselmatig het die organisasie uitgebrei en in 2015 is Vaalpets amptelik as ‘n NPO geregistreer.

Tans is daar meer as 140 honde by Vaalpets en op Danielle se kleinhoewe word ‘n verdere 70 plus bejaarde, siek en babahonde versorg.

Maandag, 22 Januarie het Danielle 73 jaar oud geword. Waar ander hul aftrede geniet, is sy net bekommerd oor wat van die honde en Vaalpets sal word as sy nie meer daar is nie.

Haar grootste droom is om ‘n Vaalpets Kliniek te bou en oop te maak op die terrein.

Hier sal daar gefokus word op die sterilisasie van honde en om soveel as moontlik van die honde uit die armste gemeenskappe te help.

Om die droom in realiteit te omskep, vra Vaalpets vir verjaardagdonasies. Soos Jeanine Freemantle van Vaalpets sê: “100% van die insameling gaan direk vir die kliniek. Geen bedrag is te klein nie. Elke bietjie maak ‘n verskil.”

Indien jy kan help, al is dit met R10, gebruik asseblief die volgende bankbesonderhede: Verwysing: Happy Birthday. Rekeningnaam: Vaalpets. Standard Bank. Tjekrekening. Rekeningnommer: 026 554 933. Stuur bewys van betaling na 064 901 0964.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button