Local newsNews

Verkeersligte blitsig herstel na sakeman se waarskuwing

Daar is egter steeds kommer oor verskeie ander verkeerskruisings in Vanderbijlpark en Vereeniging waar soortgelyke probleme met wanfunksionerende ligte ondervind word.

VANDERBIJLPARK. – Die wanfunksionerende verkeersligte by die besige kruising tussen Rossini- en Frikkie Meyer-boulevard is verlede week uiteindelik herstel nadat dit weke lank frustrasies vir motoriste veroorsaak het.
Verskeie lesers het die afgelope weke gerapporteer dat al die rooi ligte aan albei kante van die kruising werk, maar wanneer een van die kante na groen moes oorslaan, was die groen ligte skielik dood. Motoriste vir wie die lig groen moes word, het dan gesit en wag daarvoor, onseker oor wie wanneer moes ry. Dit het veral soggens en smiddae gedurende spitstye tot verkeersopeenhopings gelei.

‘n Video waarin die Vanderbijlparkse sakeman, mnr. Fanie de Jongh, motoriste oor die gevaar by dié kruising waarsku, het op 17 Januarie binne enkele ure ‘n reikwydte van meer as 10 000 op Vaalweekblad se Facebook-groep bereik. De Jongh het genoem dat die wanfunksionele ligte reeds weke terug gerapporteer is, maar dat niks nog gedoen is om dit reg te stel nie. Hy was bekommerd dat iemand eers gaan sterf voordat die betrokke owerheid dit regmaak.

Verskeie Vaalweekbladlesers het gereageer en ook kommer oor die situasie uitgespreek. “Ons moet nou weer elke dag daardie pad skool toe ry en is bang vir ‘n ongeluk daar,” het Anoezka Aucamp laat weet. Wilma van Druten het dit beaam en gesê die verkeer by die kruising is soggens ‘n nagmerrie wanneer sy haar kinders skool toe neem. Esna Kruger het ook die hoop uitgespreek dat die verkeersligte gou herstel sal word nadat sy, haar man en kinders van onderskeidelik 6 en 1 jaar oud, byna in ‘n ongeluk daar betrokke was.
Nog lesers, soos Paula Ernst, het voorgestel dat alle verkeersligte aan albei kante liewer heeltemal afgeskakel moet word indien dit nie herstel kan word nie, sodat motoriste die kruising eerder as ‘n vierrigting-stop sal beskou.

Die probleem is egter nou iets van die verlede. Enkele dae na mnr. De Jongh se videowaarskuwing is die ligte herstel en alles werk nou weer soos dit moet. Die herstelwerk is verwelkom deur talle lesers wat dié roete gereeld moet ry. Daar is egter steeds kommer oor verskeie ander verkeerskruisings in Vanderbijlpark en Vereeniging waar soortgelyke probleme met wanfunksionerende ligte ondervind word. Motoriste word aangeraai om alle verkeerskruisings waaksaam en baie oplettend te nader.

Die besige kruising waar die stukkende verkeersligte groot verwarring veroorsaak het.
Die verkeersligte wat aan albei kante nie na groen oorgeslaan het nie, het heelwat frustrasies by die kruising tussen Rossini- en Frikkie Meyer-boulevard in Vanderbijlpark veroorsaak. In sommige gevalle het dit byna tot botsings gelei as verwarde motoriste buite hul beurt voor aankomende voertuie ingery het. Dié foto is geneem terwyl die groen ligte nog nie herstel was nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button