Beplande studentebehuising in luukse buurt kry wind van voor
Inwoners van SE3 dreig om hof toe te gaan om hul woonbuurt se karakter te beskerm.
VANDERBIJLPARK. – Eienaars van residensiële eiendomme wat gehoop het dat hulle dit sonder die nodige hersonering in kommersiële eiendomme kon omskep, word nou deur die plaaslike raad in hul spore gestuit.
Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se Departement: Boubeheer het die afgelope week waarskuwings aan minstens twee eienaars van residensiële eiendomme in die weelderige SE3-woonbuurt uitgereik wat hulle verbied om voort te gaan met die ontwikkeling of benutting van hul eiendomme vir onwettige kommersiële akkommodasie.
Inwoners van SE3 het reeds verlede jaar met kommer kennis geneem dat ‘n ontwikkelaar, Mahube Malope Investments, 24 wooneenhede in Ouhoutstraat 16 begin oprig. Die plan was glo om dit as studentebehuising, kompleet met ‘n strykkamer en gemeenskaplike wasgoedfasiliteite, uit te verhuur. Nadat ELM se Boubeheer-afdeling in Junie verlede jaar ‘n stok in die ontwikkelaar se speke gesteek het, is bouwerk gestaak, maar dit is vroeër hierdie maand hervat.
Inwoners van die rykmansbuurt het die afgelope weke op WhatsApp-groepe kommer uitgespreek dat onbeheerde studente-akkommodasie in SE3 tot dieselfde chaos kan lei as wat reeds in die SE6- en SE7-woongebiede naby die Vaaldriehoekse Universiteit van Tegnologie (VUT), gesien word. Daardie gebiede is reeds sowat 80% deur sogenaamde “landlords” oorgeneem, wat die geboue as massa-akkommodasie aan groot groepe studente uitverhuur. Dit het nie net die karakter van daardie woonbuurte verander nie, maar ook ‘n negatiewe invloed op eiendomspryse gehad. Jarelange huiseienaars wat uit die gebiede wou wegtrek, moes tevrede wees met heelwat laer verkooppryse as wat hulle ‘n paar jaar tevore sou kon kry.
* Vaalweekblad is in besit van ‘n skriftelike waarskuwing wat ELM al verlede jaar aan die ontwikkelaar in Ouhoutstraat gerig het, waarin die Boubeheer-afdeling sê ‘n inspeksie het bevind dat bouwerk op die residensiële perseel in stryd met die wet op boustandaarde was.
ELM het instruksies aan die ontwikkelaar gegee om alle bouwerk op die erf te staak of af te breek. Die rede was glo omdat die perseel nie oor die nodige sonering beskik het om as ‘n kommersiële eiendom benut te word nie. Sover vasgestel kan word, is die erf steeds net as residensieel (‘n gewone woonerf) en nie as kommersieel gesoneer nie. (Lees ook die berig hier onder).
‘Inwoners sal hof toe gaan om woonbuurt te beskerm’
VANDERBIJLPARK. – In nog ‘n voorval van “onwettige bouwerk en okkupasie van ‘n gastehuis” het die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) verlede week skriftelik opdrag aan die eienaar van ‘n luukse woning in SE3 gegee om dadelik alle bouwerk waarvoor die nodige planne nie ingedien is nie, te staak.
Die perseel in Eikestraat word tans as ‘n gastehuis bedryf en word ook so op die internet bemark, hoewel dit nog nie as ‘n kommersiële eiendom gesoneer is nie. Die eienaar is verder deur ELM versoek om nie later nie as 24 Februarie die nodige planne vir munisipale oorweging in te dien. Niemand mag intussen die geboue bewoon of benut sonder die nodige goedkeuring en okkupasiesertifikate van ELM nie.
Die Departement: Boubeheer het nie net die eienaar van die huis in Eikestraat nie maar ook die ontwikkelaar van die beplande studentebehuising in Ouhoutstraat gewaarsku dat versuim om aan die munisipale kennisgewings en wetlike vereistes te voldoen, tot regstappe in terme van die Wet op Nasionale Bouregulasies en Boustandaarde sal lei.
Mnr. Herman Janzen van Rensburg, ‘n prokureur en self ‘n inwoner van SE3, het by navraag aan Vaalweekblad gesê die SE3-gemeenskap beskou sulke onwettige aktiwiteite in ‘n ernstige lig. “Ons sal alle stappe moontlik doen, selfs regsgedinge indien nodig, om ons woonbuurt se karakter en harmonie te beskerm.”
* Vaalweekblad kon tot dusver nie daarin slaag om die betrokke ontwikkelaars vir kommentaar te bereik nie.
