Local newsNewsNews

Boomgaard wel bevoeg vir verhoor

Sy hoor nie stemme nie.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (Vrydag 26 Januarie) verskyn.

WALKERVILLE. – Die verhoor van ‘n beweerde reeksmoordenaar wat glo twee mans wat sy op Facebook ontmoet het vermoor het, sal na verwagting later vanjaar in die Noord-Gauteng hooggeregshof in Pretoria hervat word.

Dit nadat ‘n psigiatriese evaluasie getoon het dat sy bevoeg is om verhoor te word. Zaheera Boomgaard, wat vanjaar 62 jaar oud word, is in 2020 in hegtenis geneem en staan tereg op drie aanklagte van moord, twee van roof met verswarende omstandighede en meer as 50 van bedrog en diefstal.

Zaheera Boomgaard.

Sy het na bewering vir Jamnadas Harkant Nathvani (71), ‘n Britse burger wat haar in 2019 op die internet ontmoet het, vermoor. Nathvani se verbrande lyk is in Maart 2020 in De Deur gevind.

Sy staan ook tereg op die moord van John Naisby (83).

Hy het in 2012 spoorloos verdwyn nadat hy vir Boomgaard op die internet ontmoet en van Kaapstad af gevlieg het om haar in Johannesburg te ontmoet.

Hy is laaste op kringtelevisie op die OR Tambo-lughawe gesien toe hy saam met Boomgaard deur die aankomssaal gestap het. Sy liggaam is nooit gevind nie.

Jamnadas Harkant Nathvani. Foto: Argief

Laastens word Boomgaard ook aangekla van die moord op haar vriendin, Lynette Mustapha (72), wie se liggaam in Maart 2020  in Sebokeng gevind is.

Boomgaard het vroeër in die hof aangevoer dat sy voorheen met skisofrenie, ‘n versteuring wat hallusinasies kan veroorsaak, gediagnoseer is.

Daar is ook beweer dat sy drie verskillende persoonlikhede het.

Die hof het in Mei 2023 gelas dat Boomgaard vir psigiatriese assessering gaan.

Nadat daar vir maande gewag is, is daar uiteindelik plek vir Boomgaard by die Sterkfontein Psigiatriese Hospitaal gevind waar sy vir 30 dae geëvalueer is.

Laat verlede jaar is die psigiatriese verslag voltooi en aan die hooggeregshof voorgelê.

Die verslag bevind dat daar niks met haar fout is nie en dat sy bevoeg is om verhoor te word. Daar is ook geen bewyse dat sy stemme hoor of veelvuldige persoonlikhede het nie.

Die verslag is deur die hof aanvaar en die verhoor sal in Augustus voortgaan.

John Naisby. Foto: Argief

Hoewel Naisby se liggaam nooit gevind is nie, is Boomgaard aan bedrog skuldig bevind nadat van sy bankkaarte in haar besit gevind is.

Sy het glo ook verskeie onttrekkings uit sy bankrekening gemaak. Nathvani het Boomgaard in Januarie 2020 ook op Facebook ontmoet.

Nadat hy vermis geraak het is verskeie onttrekkings tussen 6 Maart en 16 Mei 2020 uit sy rekening gemaak.

Die polisie het ook in Augustus 2020 ‘n verbrande lyk in De Deur gevind, wat as die van Mustapha geïdentifiseer is.

Ná Mustapha se dood het Boomgaard FNB genader om haar by te staan met Mustapha se testament waarin sy as die eksekuteur en enigste begunstigde gelys word.

Getuienis is reeds aangebied dat Nathvani en Mustapha eers verwurg, met ‘n stomp voorwerp geslaan  en daarna aan die brand gesteek is.

Zaheera Boomgaard. Foto: Moleboheng Chaha

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button